FIETSRYTOER TER WILLE VAN DOWNSINDROOM-BEWUSMAKING

Distriksnuus – David is ‘n 11-jarige seun met baie uitdagings in sy jong lewe.  Hy was gediagnoseer met Downsindroom net na geboorte en Autisme as 15-maande oue baba.  Toe David 6 jaar oud was, is sy ouers meegedeel dat hy nie sal baat by formele skoolopleiding nie en hul is verwys na ‘n organisasie wat Autistiese kinders help en leer, en ook riglyne aan ouers gee rondom onder andere dieet en herhalende dissipline om kinders te help om sinvolle en produktiewe lewens te lei. 

Op 11-jarige ouderdom is David baie selfstandig.  Hy het alreeds 3 Cape Town Cycle fietsrenne voltooi as ‘n gestremde inskrywing in ‘n spesiale waentjie, vasgemaak aan ‘n fiets.  Hy doen wiskunde en lees eenvoudige storieboeke.  Hy speel TV-speletjies met sy broer, argumenteer met sy ouers en het ‘n ongelooflike sin vir humor.  David is baie geliefd en doen praatjies by kerke en skole oor sy ervaringe en wat dit beteken om met Down Sindroom en Autisme te leef.  Hierdie ongelooflike seun leer ander van aanvaarding, verskille en liefde.  Autisme is sekerlik sy grootste uitdaging, maar dit maak hom ook wie hy is. 

En dit is vir kinders soos David en hul ouers wat die Downsindroom Vereniging van die Wes-Kaap met die Goodwood Korrektiewe Dienste se Mountain View Fietsryklub hande neem vir bewusmaking van Downsindroom en baie nodige fondse in te samel vir die vereniging. 

Die jaarlikse Fietstoer (die 19de hierdie jaar) begin in Bellville, Kaapstad, en eindig 5 dae of 473kms verder in George.  Die groep spring weg op 25 Februarie 2019 en doen aan by die volgende dorpies op hul roete: Brackenfell, Gordonsbaai,  Caledon,  Bredasdorp,  Riviersonderend, Swellendam,  Buffeljagsrivier, Heidelberg,  Riversdal,  Albertinia,  Mosselvaai en eindelik in George.  Een van 3 verteenwoordigers van die Downsindroom Vereniging en deel van die groep, is Jody, ‘n jong man met Downsindroom wat help met bewusmaking op die roete.  Hy sing by skole en gesels oor sy lewe wat wys dat mense met Downsindroom heeltemal in staat is om vol lewens te lei. 

Die groep fietsryers sal 26 Februarie 2019 in Swellendam aandoen en onder andere Bontebok Primêr besoek voordat hul weer vanaf Swellendam Laerskool vertrek. 

Meeste van die etes en al die brandstof word verskaf deur die Downsindroom Vereniging (deur fondsinsamelingsprojekte en skenkings), en hul verskaf die ondersteuningsvoertuie vir die fietstoer. 

Wil jy of jou organisasie graag betrokke raak?  Meer inligting:  Tineke Ganz-Malan, Downsindroom Vereniging Weskaap. 021 919 8533 / www.downwc.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *