Fondse vir rioolbehandelingswerke in Suurbraak

Suurbraak Nuus – Die Swellendam Munisipaliteit het Dinsdag, 5 Februarie 2019, die eerste sooi gespit in Suurbraak vir die aanvang van ‘n groot infrastruktuurprojek in samewerking met die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.

Swellendam waste water treatment works
Waste water treatment works – stock photo

Die befondsing vir hierdie projek kom bykomend tot die befondsing wat die munisipaliteit tans ontvang uit die nasionale munisipale infrastruktuur toekenning. Die bydrae wat die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming vir die projek maak is ‘n bedrag van ongeveer R35 miljoen vir die konstruksie van ‘n rioolbehandelingswerke in Suurbraak. Die Swellendam Munisipaliteit dra ‘n bykomende R4,6 miljoen by tot die projek.

Landelike dorpe soos Swellendam het ‘n unieke uitdaging vir noodsaaklike infrastruktuurdienste aangesien hierdie dienste vir elke dorp gedupliseer moet word. Dit is ‘n baie duur oefening wat ‘n rimpeleffek op ander projekte het en wat lei tot `n vertraging in die voorsiening van laekoste behuising en grootmaat infrastruktuur.

Die wyse waarop die finansiële toekennings vir infrastruktuur- en ander prioriteitsdienste uit die nasionale infrastruktuur fonds gedoen word, spreek nie Swellendam se unieke uitdaging van lae bevolkingsdigtheid oor ‘n groot munisipale gebied aan nie. 

Die huidige munisipale administrasie het sedert 2016 verskeie alternatiewe bronne van befondsing ondersoek en die gevolg hiervan was dat die Swellendam Munisipaliteit daarin kon slaag om dié aansienlike befondsing van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming te verkry vir die verbetering van infrastruktuur in Suurbraak.

Die Munisipaliteit administreer die tenderspesifikasies en is ook verantwoordelik vir projekbestuur en lopende kontrakadministrasie. Die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming het die verkrygingsproses en die aanstelling van ‘n kontrakteur hanteer. Die aanvangsdatum van hierdie projek is 5 Februarie 2019 en sal na verwagting teen Februarie 2020 voltooi wees.

LB-06-02-19

Inligting: Bianca McKechnie, Snr Media en Kommunikasiebeampte, Swellendam Munisipaliteit

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *