Musiekikoon – Laurika Rauch vier 40 Jaar

AKTUEELIn 1979 neem Laurika Rauch ‘Kinders van die Wind’ deur Koos du Plessis op – indertyd die temalied vir die TV reeks ‘Phoenix & Kie’.  Die liedjie word so populêr dat dit No.1 op beide Springbok Radio en Radio 5 (nou 5FM) se treffersperades word – en help om Laurika Rauch ‘n huishoudelike naam te maak.  Nie lank daarna nie stel Laurika haar eerste album ‘Debuut’ vry.

In ‘n onderhoud met JOOX onthou Laurika: ‘’Debuut’ was in die destydse RPM-ateljees opgeneem in Foxstraat Johannesburg. John Lindemann was die ingenieur en Dan Hill was die verwerker van al die liedjies.’

Tegnologie het natuurlik baie verander sedert haar debuut-album opgeneem is! ‘Die album was natuurlik op ‘n 2 duim band analoog opgeneem en daar was min kans om dinge oor te doen totdat dit reg was. Baie van ‘Debuut’ se liedjies was ‘one takes’ soos wat ons sê.’

Laurika Rauch - Suid-Afrikaanse en Afrikaanse Musiek ikoon
Laurika Rauch – Afrikaanse Musiek Ikoon

Sy onthou ook dat ‘omdat dit my eerste solo album was, was dit die eerste keer dat ek 10 liedjies agter mekaar opgeneem het. Anton Goosen het heelwat van die liedjies geskryf en ek het ook my weergawe van ‘Straattroebadoere’ en ‘Waterblommetjies’ (lank na Sonja Herholdt se oorspronklike opnames) opgeneem. My toonsetting van ‘n Ingrid Jonker-gedig – ‘Toemaar die Donker Man’, sowel as my toonsetting van ‘n Boerneef-gedig  ‘Met transistor innie hand’  was ook daarop ingesluit.’

Draai die klok na 2019 en Laurika Rauch vier hierdie jaar 40 suksesvolle jare in die musiekindustrie – ‘n besonderse mylpaal in Afrikaanse musiek!  Sy kan nou terugkyk na 25 albums sedert ‘Debuut’ – insluitend liedjies wat ikoniese status in Afrikaanse musiek bereik het soos, ‘Op Blouberg se Strand’  (1998); ‘Stuur Groete aan Mannetjies Roux’ (1990); ‘Die Mense Op Die Bus’ (1999) en ‘Vier Seisoene Kind’ (2002). Interessant genoeg is baie van haar bekendste liedjies deur haar man, Christopher Torr geskryf, insluitende ‘Stuur Groete aan Mannetjies Roux’ wat hulde aan dié legandariese rugbyspeler bring.

Laurika Rauch se bydrae tot Afrikaanse musiek is veral belangrik omdat sy oorspronklike Afrikaanse musiek opgeneem het, veral gedurende ‘n periode wanneer dit die gewoonte was om Europese liedjies in Afrikaans te vertaal.  Vandag, 40 jaar later, kan ons haar vier as ‘n ware ikoon van Afrikaanse musiek..

Artikel en Foto’s: Kwazi Ngubae (namens JOOX VIP)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *