Nog ‘n plaasaanval buite Stellenbosch

WES-KAAP MISDAAD – Die Wes-Kaapse polisie is op die spoor van vier verdagtes wat Dinsdagoggend ’n vrou en haar twee kinders in hul huis op ’n plaas in die Klapmuts-omgewing buite Stellenbosch oorval het.

Johandre van Zyl, AfriForum se streekshoof van gemeenskapsveiligheid, het aan Maroela Media gesê vier aanvallers het vanoggend omstreeks 06:30 ʼn venster van die plaashuis gebreek om toegang tot die huis te verkry, kort nadat die vrou se man vroegoggend uit die huis is. Die vrou en kinders is deur die aanvallers oorval en die vrou is met ʼn voorwerp oor haar kop geslaan.

Die kinders is ongedeerd. Lt.kol. Andrè Traut, woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig. Traut het gesê die aanvallers het die inwoners gedreig waarna hulle met ’n vuurwapen op die vlug geslaan het.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, is paramedici vanoggend na die plaas ontbied waar die vrou en kinders in die huis aangetref is. Die polisie was reeds op die toneel.

Hoewel die kinders geen beserings in die voorval opgedoen het nie, het die vrou wel ’n wond aan haar kop gehad. Die wond is op die toneel behandel voordat die vrou na ’n private hospitaal geneem is vir verdere mediese behandeling. Haar toestand word as stabiel bestempel.

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie, het Traut gesê. Die polisie ondersoek ’n saak van huisroof.

Die voorval volg kort nadat die wynboer Stefan Smit (62) van die Louiesenhof-wynlandgoed Sondag op sy plaas buite Stellenbosch vermoor is. Smit is in sy huis doodgeskiet nadat vier gewapende mans deur ʼn oop deur toegang tot die plaashuis verkry het. Verlede maand is nog ʼn Wes-Kaapse boer, Tool Wessels, dood toe hy en sy vrou op hul plaas, Kapteinsdrift, naby Bonnievale aangeval is.

Artikel: Maroelamedia – Tania Heyns

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *