Nuus soos dit gebeur – Vermeende Swellendam reeksmoordenaar in plaaslike hof

‘n Vermeende reeksmoordenaar van Zimbabwe het vanoggend vlugtig in die plaaslike hof in Swellendam verskyn. Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek.

Die 32-jarige verdagte, Brian Linos George Mudyiwayana, is op 9 Februarie 2019 by die Swellenmark winkelsentrum gearresteer op vermoede dat hy betrokke is by 4 moorde wat plaasgevind het in Wolsely, Worcester, Swellendam en De Doorns tussen 2017 en 2019 .

Die maraton-ondersoek het alreeds in 2017 begin met die verdwying van ‘n onderwyseres, Lungelwa Dangatye, in die Suidkaap. Die Zimbabwiër was oorspronklik gesoek vir die moord op Dangatye, van die JCC Kamp Informele Plakkersmakp in Da Gamaskop, Kwa-Nonqaba in Mosselbaai. Die verdagte het klaarblyklik tussen plakkerskampe in die Suidkaap beweeg om speurders te fnuik.

Volgens ‘n News24 verslaggewer was die onderwyseres in Desember 2017 haar huis gevind met haar hande agter haar rug vasgebind en ernstige wonde aan haar kop. Die verdagte kon oorspronklik nie direk aan die moord deur beskikbare getuienis gekoppel word nie, maar na bewering het verdere DNA analise Mudyiwayana wel susksesvol verbind. Die deeglike ondersoek deur die Weskaapse speurder op die saak het ook verdere lig gewerp op ander onopgeloste moordsake in verskeie dele van die Weskaap.

Volgens Kaptein Malcolm Pojie, woordvoerder van die ondersoek in SAPD Mediasentrum in die Suidkaapkantoor, is die ondersoek tans op ‘n baie sensitiewe stadium.

Wanneer sulke hoë profielsake bekend word, is daar gewoonlik individue wat bespiegel en stories en gerugte versprei. Hierdie kan egter die ondersoek uiters nadelig beïnvloed en Kaptein Pojie doen ‘n ernstige beroep op inwoners om hul te weerhou van die verspreiding daarvan. Voortydige bekendmaking van inligting (waar of onwaar) betreffende die saak kan die SAPD se ondersoek en latere hofsake kelder.

Feite en meer inligting sal aan inwoners bekendgemaak word soos die saak vorder.

Soos alreeds genoem, duur die ondersoek voort en met nuwe leidrade wat in die saak bekend word, poog ondersoekbeamptes om ook ander moordsake in die Weskaap op te los.

Enige persoon met inligting oor die saak of wat moontlik kan help met die oplos van moorde wat plaasgevind het tussen 2016 en 2019 in die Boland en Suidkaap omgewing, word versoek om die tolvrye ‘Crime Stop’ misdaadlyn te skakel – 08600 10111.

LB-19-02-19

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *