Plaasmoorde: “Genoeg is genoeg” sê TLU SA

SUID-AFRIKA MISDAAD – TLU SA het Maandag sy kommer uitgespreek nadat daar vandeesmaand reeds vyf plaasaanvalle en een plaasmoord aangemeld is.

Die nasionale moordsyfer van ongeveer 53 mense per dag is vir ons onaanvaarbaar. In Mei-maand alleen was daar 46 aanvalle en sewe moorde op plase. Junie het skaars begin en daar is reeds vyf aanvalle en een moord op plase en kleinhoewes,” het Henry Geldenhuys, adjunk-president van TLU SA, in ’n verklaring gesê.

Volgens Geldenhuys is dié landbou-organisasie bekommerd oor die toename van plaasaanvalle en -moorde sedert 2012. Hy is veral onrustig oor die toename van dié voorvalle ná afoop van vanjaar se verkiesing. TLU SA het dus ’n beroep op die regering, polisie asook die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gedoen om binne die volgende maand ʼn doeltreffende en werkbare oplossing te implementeer. “Die totale verval van wetsgehoorsaamheid in ons land kan nie langer met gevoude hande aanskou word nie,” het Geldenhuys gesê.

TLU SA se uitspraak volg kort nadat die wynboer Stefan Smit (62) van die Louiesenhof-wynlandgoed Sondag buite Stellenbosch in die Wes-Kaap vermoor is. Smit is in sy huis doodgeskiet nadat vier gewapende mans deur ʼn oop deur toegang tot die plaashuis verkry het.

Agri Wes-Kaap het ná die moord op Smit ook sy stem dik gemaak. “Agri Wes-Kaap versoek pres. Cyril Ramaphosa om sy uitsprake op Dinsdag 9 April by Beyerskloof naby Stellenbosch te verduidelik toe hy gesê het wit landbouers het ʼn toekoms in die land en dat hy wil verhoed dat hulle die land verlaat. “

Agri Wes-Kaap wil ook by mnr. Ramaphosa weet hoe ʼn organisasie soos Agri Wes-Kaap produsente moet aanmoedig om in ʼn land te bly waar hulle en hulle plaaswerkers se lewe elke dag bedreig word.” TLU SA het boere en plaaswerkers gemaan om hul veiligheid op te skerp asook diegene betrokke by landelike veiligheid versoek om druk op die regering uit te oefen.

Artikel: Maroela Media, 4 Junie 2019

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *