Steve Hofmeyr en Afrikaanse borge se boikotte

29 Maart 2019; Maroela Media; Skrywer – Flip Buys

“Een mens met ’n beginsel is ’n meerderheid”, het president Paul Kruger gesê. Daarmee het hy bedoel dat mens nie jou standpunt na gelang van die omstandighede moet grond nie, maar op prinsipiële besinning. Kom ons probeer Kruger se formule toepas met die borge se boikotte van Afrikaans is Groot, (AIG) omdat hulle beswaar maak teen wat hulle beskryf as Steve Hofmeyr se rassisme.

Eers die beginsel. Rassisme is verkeerd, verdelend, vernederend en kan nie regverdig word nie. Dis nie reg om jouself uit te spreek teen swart rassisme, en dan wit rassisme goed te keur omdat dit “my mense” is nie. Iemand wat rassehaat versprei, is nie een van “my mense” nie, ongeag wie die persoon is. As Christen glo ek jy moet jou naaste liefhê.

Nou die toepassing. Ek stem nie saam met van die stellings wat Steve al gemaak het oor ras of apartheid nie. Mens moenie mense wat nie jou vriende is, jou vyande maak nie. Ja, ek weet van dubbele standaarde, Malema, Lesu en andere. Maar dit gaan nie oor húl waardes nie, dit gaan oor ons waardes. Ek kan nie hul gedrag bepaal nie, maar ons hoef nie rassisties te reageer op hul rassisme nie. Maar daar is ’n allemintige verskil om Steve se konserte en die grootste Afrikaanse vertoning in die land waaraan Steve ook deelneem, te boikot. Nou boikot MTN, Toyota en Media24 nie vir Steve nie, hul boikot die hele Afrikaanse gemeenskap!

Langenhoven – Maar dis nie die einde van die saak nie. MTN, Toyota en die ANC laat my dink aan Langenhoven se bekende stelling: “Waarom is ons politiek altyd rassisme, en julle rassisme altyd net politiek?” Daarmee verwys ek na die dubbele standaarde en skynheiligheid van borge soos MTN, wat blykbaar al die EFF-funksies geborg het, en Toyota wat nou oor Steve kla, maar stilbly en selfs meewerk aan die rassebedeling in die land. Dis nie regverdigbaar om hoogheilig oor Steve te kla, maar dan die rassisme van die Malemas en die Lesu’s van die wêreld te verswyg nie. Die ANC moet eerder die hand in eie boesem steek as om oor Steve te kla.

Soos Pierre van den Berghe, die Amerikaanse politieke wetenskaplike, gesê het: “If your constituency hasthe good fortune to contain a demographic majority, racism can easily be disguised as democracy. A racially-dened majority is a far cry of a majority made up ofshifting coalitions of individuals on the basis of a commonality of beliefs and interests”.

Dis ernstig en verkeerd as maglose wit mense soos Penny Sparrow rassisties is. Maar dis veel erger as magsbehepte rassiste soos Lesu ons belastinggeld en sy staatsmag misbruik om sy rassisme met wetgewing op mense af te dwing. AfriForum help nie die Coligny-mans omdat hulle wit en hul vermeende slagoffer swart is nie, maar omdat ons glo dat hulle nie aan moord skuldig is nie, en omdat hul ras ’n bepalende rol gespeel het in die onreg waaronder hulle lei. Dubbele standaarde.

Die Solidariteit Navorsingsinstituut het bevind dat die media gemiddeld 1 286 keer berig wanneer ’n wit persoon van rassisme beskuldig word, teenoor die skrale 66 keer wanneer swart mense beskuldig word. Die Menseregtekommissie (MRK) begin vanself vyf uit ses ondersoeke wanneer wit oortreders ter sprake kom, teenoor net een uit 11 teen swart mense. In die ander gevalle reageer hulle eers nadat klagtes ontvang is. Die MRK het so pas bevind dat vyf verskillende uitsprake van Malema nie op haatspraak neerkom nie, ongeag stellings soos “ek vra nie vir die doodmaak van witmense nie, in elk geval nie nou al nie”. Daarteenoor het wit mense al tronkstraf vir rasse-uitsprake gekry.

Kan slegs wit mense nou rassisties wees? Die wydverspreide raspolitiek van maatskappye soos Sasol en Discovery is bykomende voorbeelde van dubbele standaarde, waaroor die media en elite oorverdowend swyg. Wit mense sal makliker die hand in eie boesem steek as alle rasse gelyk en oor dieselfde kam geskeer word. Kritiseer en boikot rassisme ongeag ras, dán sal jul veldtog teen Steve en AIG werklik gewig dra.

Vernietiging – Die Internasionale reg is duidelik daaroor dat die basiese reg van enige gemeenskap is om voort te bestaan, deur sy kultuur te bedryf en aan die volgende geslag oor te dra. Daarvoor is instellings soos skole, universiteite, organisasies en belastingbydraes nodig. Die projek om deur transformasie Afrikaanse instellings te vernietig, is daarom in werklikheid ’n projek om die Afrikaanse gemeenskap in die algemeen en die Afrikaner kultuurgemeenskap in die besonder te vernietig.

Namate die Afrikaanse gemeenskap van hul openbare instellings gestroop is, speel private- en gemeenskapsinstellings ’n baie belangriker rol. Daarom gaan die onverdraagsaamheid van politici en borge oor veel meer as een sanger se uitsprake. Dit het ten gevolg dat die min Afrikaanse ruimtes wat daar nog bestaan, ook nou geteiken word vir vernietiging. Dit gaan dus nie oor Afrikaners se beleid nie, maar oor hul identiteit – oor wie en wat hulle is. Steve word dus net ’n handige stok om ons as gemeenskap te slaan.

Helen Zille som hierdie gevaar goed op: “The condemnation of a whole category of people because of their (white) race, isthe new face of racism in South Africa”.

Die boikotte teen AIG oor Steve Hofmeyer is skynheilig en dui veel eerder op dubbele standaarde en ’n aanval op Afrikaans en Afrikaners as op ’n sanger se rassisme. Die vraag oor die pad vorentoe kan maklik beantwoord word: As borge ons nie wil help nie, moet ons (soos soveel keer in die geskiedenis) onsself help. Ons kan nie toelaat dat ons taal en ons kulturele ruimtes weens skynheilige redes van ons afgevat word nie. Daarom moet die Solidariteit Helpende Hand met AIG hande vat om ’n addisionele Jou Afrikaans is Groot-konsert te hou om die tekorte weens die borge se boikot heelhartig te ondersteun.

Flip Buys Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging
Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid ofstandpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie.  

Hierdie artikel verteenwoordig ook nie die beleid of standpunt van 
Die Langeberg Bulletin of sy Redaksiespan nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *