STILBAAI SE BLOMBOS-GROT GENOMINEER VIR UNESCO-STATUS

Artikel, foto’s en video: Suid_Kaap Forum; 28 March 2019. Hessequa Nuus

STILBAAI NUUS & VIDEO – Blombos-grot is een van drie in die Wes-Kaap wat by Unesco vir wêrelderfenisstatus genomineer gaan word. Dié grot is van argeologies en veral kultuurhistoriese belang nadat ‘n klipskerf met geometriese merke in oker, wat met moderne menslike gedrag vereenselwig word, daar gevind is.

Die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport het die tender om die nominasieverslag vir die United Nations Educational, Scientific and Cultural Organisation (Unesco) voor te berei aan EcoAfrica Environmental Consultants van Kaapstad toegeken. Olga van den Pol en kollega Guy Thomas van EcoAfrica het Dinsdag 19 Maart die waarde van die grot en die aansoekproses in die gemeenskapsentrum toegelig.

Die Blombos-grot is in die Blombos privaat natuurreservaat buite Stilbaai geleë. Die grot van 55m² is sowat 50m van die see af op ‘n hoogte van 35m bo seekvlak. Toegang word verkry deur ‘n nou opening en binnekant is nie veel te sien nie. Tog was die grot al herhaaldelik die teiken van vandale.

Prof. Christopher Henshilwood het in 1991-1992 die eerste opgrawings in die grot gedoen. Na die verwerwing van sy doktorsgraad aan die Universiteit van Cambridge, het hy opgrawings hervat en sit dit sedert 1997 voort.

Die belangrikste fonds was ‘n 73 000 jaar oue klipskerf waarop strepe kruis en dwars met ‘n okerkryt gemaak is. Verskeie soortgelyke klipskerwe is ook in ouer lae in die grot gevind. Twee perlemoenskulpe, wat met okerverf gevul is en toerusting vir die vervaardiging daarvan, is in sedimentlae van 100 000 jaar oud gevind.

Oker, wat vir die aanbring van simbole op klip- of rotswande en moontlik ook vir lyfverf gebruik is, skulpkrale en beenwerktuie wat buiten klipwerktuie hier gevind is, dui daarop dat die besoekers of tydelike inwoners van dié grot tydens die Middel-Steentydperk moderne mense soos ons was wat ‘n begrip van simboliek/kuns gehad het.

Hierdie merke is ten minste 30 000 jaar ouer as die Altamira-rotstekening wat in die Cantabria-gebied in Spanje gevind is en wat maar 40 000 jaar oud is. Daar is lank geglo dat die Altamira-tekening die oudste ter wêreld is, maar die argeologiese vonds by Blombos het daardie aanname weerlê.

Die aansoekproses behels onder meer publieke deelname soos hierdie geleentheid, die opstel van ‘n bewarings- en bestuursplan, klaarheid oor eienaarskap, bewaring van die grot en omgewing en toesighouding. ‘n Gekonsti-tueerde komitee, bestaande uit kundiges en plaaslike rolspelers, sal genomineer word.

“Wêreld-erfenisstatus sal Stilbaai verder uitlig as ‘n besondere bestemming en uiteindelik sal dit meer toeriste lok en werk skep,” het Van den Pol gesê.

Volgens Johan Jacobs, Hessequa se munisipale bestuurder, word die aansoek ondersteun en die begroting maak voorsiening daarvoor. Die ander twee plekke is die Pinnacle Point-grotkompleks by Mosselbaai en die Langkloof-skuiling naby Elandsbaai aan die Weskus. Die aansoek sal later uitgebrei word om die Klasiesrivier in die Oos-Kaap en Sibudu- en Border-grotte in KwaZulu-Natal in te sluit.

Die klipskerf met kruis en dwars strepe in oker is een van die belangrikste vondse by Blombos-grot in Stilbaai

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *