La Dolce Vita – THE SWEET LIFE
ET; 21 Januarie 2025
Nee, ek het nie direkte bande met ‘n Italiaanse iemand nie (wel amper – my enigste seun is vernoem na sy oupa aan pa se kant – half Italianer, en sy tannies spog alger met Italiaanse name wat lekker op die tong rol). Ek was ook nog nooit in die Italië nie. MAAR..
Ek het ‘n verwondering en hunkering in my vir die mooi van Italië, altyd nog net gesien in instagram foto’s met geel suurlemoene, groen wingerde en dun langsteel glase vol sprankelwyn.
Italiaanse woorde en uitsprake val sag op my oor. Opera moet gesing word in italiaans!
Italianers leef, en lag, en gesels in emosies, in oorgawe, geweef in die eenvoud van lewe.
Hier, tuis, laat Swellendamsomers my hunker na gedekte Toskaanse lang tafels onder skadubome en na hartlike kuiers met vriende en familie en hartsmense. Tafels kreun onder bakke vol vye, kaas, olywe, basilica, oreganum, die geur van olyfolie en bloedrooi boepens tamaties en elke ete vir twee (of straks tien) is ‘n feesmaal met liefde voorgesit.
So, in 2025 (en ook die jare wat mag volg) steek ek kers op by my italiaanse ‘sorellas’ (susters). Ek gryp die lewe aan met GUSTO en ek gee my oor aan die ‘soet’ daarvan.
Ek omhels ‘La dolce vita’, vir ‘n eenvoudiger jaar, geleef met liefde en oorgawe, waar die mooi van klein alledaagse dingetjies en groter oe-la-la spesiale oomblikke my asem wegslaan. Hierdie jaar maak ek tyd om ‘net te wees’, en die soetheid van ‘niks doen’ te ervaar.
Hierdie jaar draai ek die vinnige horlosie in my week veel stadiger, en ek werk baie sagter met my dagboek wanneer ander my kalenderure wil vol maak. Wanneer ek minute en oomblikke van myself gee, beloof ek om in gees en siel teenwoordig te wees (ek weet immers nie hoeveel tye en oomblikke nog op my lewensboekie geskryf word nie).
Vir sielerus ontkoppel ek digitaal en van sosiale media aansprake.
Ek sien uit na ‘n vol lewe hierdie jaar.
Op my aktiwiteitslysie is kwaliteitkuiers gevul met liefde, kameraadskap en heerlike samesyn met hartsmense, sommer so informeel oor ‘n koppie rooibos of glasie rooi wanneer die dag einde se kant toe mik.
Opregtheid is my mantra. My lewe is te kort en my tyd veels te kosbaar vir ‘n wêreldse oordadigheid, plastiese oppervlakkigheid, opgesmuktheid of voorgee.
La Dolce Vita – ek leef uitbundig, met passie, en dans onbeskaamd op my eie ritme en styl.
Kom jy saam met my op my kamino en reis, liewe sielsgenoot?
My bagasie is lig. Ons laat gister se monsters en bekommernisse in die ou jaar.
Laat my weet!

No Comment! Be the first one.