Bulletin Buzz podcasts
Music News

Anny Whyte groet Swellendam met ‘n lied in haar rugsak 

Anny Whyte
Written by Elana Theunissen

Jong Rocker gereed om haar debuut album op te neem

Sy was skaars 21-jaar-oud toe hierdie Swellendam dame musiekliefhebbers van regoor die land se harte met haar oorspronklike musiek gesteel het. 

Anny Whyte het in November 2020 haar eerste snit (single) ‘It Was You’ bekend gestel wat kort daarna oor radiostasies soos Overberg FM en Mix FM gespeel is. 

Dit was ‘n droom debuut vir haar en daarna het haar liedjies ‘It’s A Bluff’ en ‘When He’s Gone’ ook daarin geslaag om op hul beurt die beskore top 10 van Mix FM se SA Top 40 te behaal. 

Anny kon egter weens die pandemie nie soveel optredes doen as wat sy graag wou nie en dit is een van die hoofredes waarom sy die skoonheid van die platteland vir die stad verruil het. 

Die Bulletin het gelukkig ‘n onderhoud met Anny gevoer voor sy die groot trek aangepak het.  Sy was veral opgewonde oor die feit dat sy binnekort die res van haar album gaan opneem. 

Sy was minder optimisties oor die swaar verkeer. 

 “Dit is opwindend en ek sien daarna uit om nuwe mense te ontmoet en nuwe dinge in die lewe te ervaar, maar ek sal gereeld kom kuier,” vertel sy. 

Anny het bevestig dat Gerhard Grobler en Benjamin Hound haar album gaan vervaardig en dat dit nog voor die einde van die jaar vrygestel sal word – daar was mos baie tyd tydens grendeltyd om alles mooi in plek te kry. 

Die skuif was egter ‘n groot een vir die plattelandse nooi wat haar nou in Bellville Rockcity bevind. Sy het vertel hoe sy, so tussen die opwindende jongmenslewe deur, die mooi omgewing waarin sy groot geword het, gaan mis. 

“Ek hou daarvan dat mens hier deur so baie natuurskoon omring is en dit gaan beslis baie anders in die stad wees,” het sy verduidelik. 

“Dit gaan ‘n groot aanpassing wees om nie die heeldag tussen diere te wees nie.” 

Anny meen egter dat daar ‘n geleentheid in Swellendam is om ‘n bietjie meer vir die jongmense te doen. Buiten Barrel en Blues is daar nie baie vir die jeug om hulle mee besig te hou nie. 

Die amper beroemde musikant reken ‘n goeie “jolplek” sal werk. 

“Ons kort ‘n plek hier wat meer vir jongmense is, ‘n dansplek – waar die ouer mense nie noodwendig wil wees nie,” skerts sy.

Sy voel ook dat daar nie genoeg werksgeleenthedede vir jongmense in Swellendam is nie en dit die rede is waarom almal maar na skool die groot onbekende wêreld inslaan. 

Haar liefde vir haar dorp en haar mense sal egter nooit verander nie en Anny hoop om sommer binnekort weer hier op te tree. 

Maar vir nou het die tyd aangebreek om hard aan die nuwe album te werk en diegene wat reeds haar eerste snitte geluister het sal weet dat daar nóg puik musiek oppad is.

Lees Ook:

About the author

Elana Theunissen

Leave a Comment