Daar is met leedwese kennis geneem van die oorlye van Me. Nicolene Swart wat saam met haar eggenoot, Mnr. Marthinus Swart, die plaas Kleinplasie in die distrik van Riviersonderend besit het. Op 25 Oktober 1975 het ‘n voertuig van Swellendam in die rivier langs die plaas gestort. 21 leerders, 6 onderwysers en die voertuigbestuurder het in die ongeluk gesterf. Genadiglik het 11 leerders en I onderwyser die ramp oorleef.
Die Swart-egpaar het hul na die ramptoneel gehaas en vasgestel dat daar groot ellende was. Nicolene het die oorlewendes na haar huis genooi en vir die kinders wat almal sopnat was, van haar kinders se droë klere gegee om aan te trek. Sy het verder besef dat die slagoffers se families in hul haas om vas te stel wat met hul geliefdes gebeur het, vergeet het om kos saam te bring. Sy het toe haar vriendinne, Irene Neethling, Mona Human, Gertie Hoffman, Tesbie Human en ‘n paar ander gemobiliseer om die families wat vir twee dae langs die rivier vir hul geliefdes se oorskot moes wag, uit hul eie sak te voed.
Die Swellendam Beursfonds wat gestig is om studente van Swellendam te help en om eer te bring aan die slagoffers van hierdie tragedie, het haar en ander helde van die Swellendam Busramp in Oktober 2012 genooi sodat die gemeenskap hulle kon bedank. Ongelukkig kon haar eggenoot wat haar getrou bygestaan het, weenos ngesteldheid nie vir haar vergesel nie. Hy het haar op 16 Februarie 2015 op die ouderdom van 82 vooruitgegaan.
Die heldedade van hierdie egpaar en almal wat hulle vyftig jaar gelede gehelp het om die slagoffers van die Swellendam Busramp by te staan, word vandag nog hoog waardeer.
Ons betuig ons meegevoel aan die familie wat met trots kan terugkyk op die opofferings wat Nicolene en Tienie tydens die Swellendam Busramp gemaak het om vreemdelinge van Swellendam en omstreke se nood en lyding te verlig.

No Comment! Be the first one.