“Wanneer jy deur die water gaan, is Ek by jou; deur riviere—hulle sal jou nie oorstroom nie. Wanneer jy deur vuur loop, sal jy nie skroei nie…” — Jesaja 43:2
Dagstukkie:
Daar is min dinge wat so swaar op die hart lê soos om te bid — dag na dag, traan na traan — en dit voel asof die hemel stil bly. Ons smag na antwoord, na verandering, na deurbraak. Ons voel soos iemand wat in diep water probeer asemhaal, sonder ’n uitkomkans in sig.
Maar dan… eendag, soms onverwags, soms ná jare… verander iets. Die deure wat toe was, gaan oop. Die storm gaan lê. Die trane word afgedroog. Die gebed wat jy in die geheim gebid het, kry sy antwoord. Dis in daardie oomblik dat jy besef: God het jou nie vergeet nie.
Hy het nie net jou trane gesien nie, Hy het dit opgeteken (Psalm 56:9). Hy het jou woorde gehoor toe jy self nie meer krag gehad het om te praat nie. En wanneer God antwoord, antwoord Hy op só ’n manier dat jy weet: dit was Hy alleen.
In die Bybel is daar vele voorbeelde van God wat gebede aanhoor..
- Hannah se Gebed: “Toe het sy tot die Here gebid… en gesê: ‘As U na my ellende kyk en my ‘n seun gee…’ En die Here het aan haar gebed gehoor gegee.” – 1 Samuel 1:10-20 (Hannah se seun, Samuel, het ’n profeet van God geword.)
- Josef in Egipte: Nadat hy verraai en gevange gehou is, bring God hom op in ’n posisie van invloed—presies op die regte tyd om sy familie te red. – Genesis 50:20
- Die Volk Israel by die Rooi See: Toe dit lyk asof alles verlore is, het God die waters oopgemaak. – Eksodus 14:21-22
Jy wat deur diep waters moes gaan — weet vandag: daardie water het jou nie verswelg nie, want God het jou gedra. En as jy nog wag op antwoord, vertrou dat Hy steeds besig is agter die skerms.
“Die gebed van die regverdige het groot krag en bring baie tot stand.” — Jakobus 5:16
Geseënd is jy, nie net wanneer jy ontvang nie, maar ook wanneer jy wag… want jy wag nie alleen nie.
Kort Gebed:
Here, dankie dat U my hoor – selfs wanneer ek stil huil. Dankie dat U getrou is, selfs in die wagtyd. Help my om U te vertrou met my hele hart, en om te onthou dat U tydsberekening altyd volmaak is. Amen.
In stille refleksie:
Watter gebed het ek al gebid wat dalk nog nie beantwoord is nie – en hoe kan ek vertrou dat God steeds besig is om te werk, selfs al sien ek dit nog nie?
Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit. Ut elit tellus, luctus nec ullamcorper mattis, pulvinar dapibus leo.

No Comment! Be the first one.