Swellendam – Dit is met groot hartseer dat ons afskeid neem van een van ons gerespekteerde lede: Chris Plomaritis, wat op die jong ouderdom van 59 jaar oorlede is.( 04-03 -1966 / 30-06- 2025 ).
Chris is Maandagmiddag, 30 Junie 2025, as gevolg van ‘n hartprobleem oorlede op Swellendam. Hy laat sy dogter Rochelle, kleindogter Bellatjie, asook sy suster agter. Hy sou Desember ‘n pasaangeëer gekry het nadat hy al ‘n tyd lank gesukkel het met sy hart.
Ongeveer 12 jaar terug was Chris deel van die span wat die buurtwag weer aktief gemaak het . Hiervoor dank ons hom.
Chris was ‘n lid van Ariforum sowel as Poc’s buurtwagte. Hy was ook deel gewees van die GPF forum vir baie jare. Hier het hy ook groot bydrae gelewer vir die gemeenskapsveiligheid.
Hy was nie net ‘n vriend nie. As oom Chris, Pa en Oupa nie, was hy van deel van’ n familie wat tyd opsy gesit het vir die veiligheid van die gemeenskap. Nooit was ‘n taak te veel of te groot vir hom nie. Saterdae en Sondae was hy gereeld te sien in die middedorp besig om te patrolleer – te voet. Sy bakkie met die geel buurtwagplakkers was al om bekend en kon nie mis gekyk word nie. Chris was een van die min buurtwaglede wat altyd beskikbaar was wanneer nodig. Hy sal verseker gemis word.
Chris sal altyd onthou word vir sy vriendelikheid en hy het altyd ‘n grappie reg gehad. Met aanvang van sy skof was dit ‘n instelling eers ‘n pasteitjie en ‘n koffietjie te kry as versterking vir wat voorlê. Met breektyd was dit tyd vir n sigarettjie wat hyself gemaak het en altyd n grappie of twee daarby. Ons sal hom ook onthou vir sy voorliefde vir sjokoladekoek.
Buiten sy passie vir Swellendam se veiligheid was Chris was ook ‘n gesiene besigheidsman op Swellendam. Sy besigheid Nl Husqvarna – Swellendam Grassnyers, was alom bekend. Selfs hier was ook geen uitdaging te groot of te vêr vir hom nie. Hy het almal altyd met ‘n glimlag gehelp en daar was altyd tyd vir raad en ‘n grappie.
‘Chris, jy sal gemis word. Nou is jy en Tannie Miemmie bymekaar, soos dit hoort.
Van ons almal by die buurtwag : ”Oor en uit Charlie, vir ‘n laaste keer…”
Rus in vrede Ou Vriend!

No Comment! Be the first one.