Deidre was op die vierde bord toe haar brein begin wegdryf. Haar hande was nog besig om die sopbord blink te vryf, maar haar oë was vasgenael op niks in die niet.
“Dames en here,” het ‘n denkbeeldige stem oor die luidsprekers geskreeu, “gee ‘n daverende applous vir… D-RAY!”
Die kombuis het verdwyn. Skielik was daar ligte wat flits en ’n verhoog so blink soos ‘n spieël. Sy het haar kop hoog gehou, skep-lepel soos ’n mikrofoon vasgegryp, en haar heupe met flair gedraai. Die klanke van Katy Perry se Hot & Cold het deur die lug begin pomp.
Die gehoor was mal oor haar. Hulle fluit en klap, sommiges staan selfs op. “Jy’s ongelooflik!” gil ’n ou in die voorste ry. D-Ray glimlag breed, gee ’n knik, en begin die refrein met oorgawe uitsing:
“You’re hot, then you’re cold
You’re yes, then you’re no
You’re in, then you’re out
You’re up, then you’re down!”
In haar verhooggloed het sy haar arms in die lug geswaai, ’n dramatiese buiging gemaak… en toe gebeur dit.
PLOEF!
Seepskuim vlieg soos konfetti toe haar arm teen die skuimbak stamp. Dit spat oor die hele vloer — en op daardie oomblik glip iemand by die deur in.
“Wat op dees aarde—?”
Haar ma gly, arms maai soos windpomplemme, voete probeer rem op die nat teëls… en boink! land sy plat op haar sitvlak.
Vir ’n oomblik is daar net stilte.
Toe bars Deidre uit van die lag. Haar ma kyk op met skuim op haar bril, een wenkbrou gelig. “D-Ray, né? Jy’s definitief op ’n show.”
Deidre reik ‘n hand uit, giggel steeds. “Miskien volgende keer maar eerder So You Think You Can Clean.”
Hulle lag albei — en die skottelgoed wag maar.

No Comment! Be the first one.