Swellendam – Almal ken vir Vicky Bezuidenhout – Vicky van die gemeenskapsgroepe. Onverpoosd werk sy dag en nag, sonder vergoeding, om die Swellendam gemeenskap op hoogte te hou van gebeure in die dorp en distrik.
Vicky is passievol oor Swellendam en sy mense, en sonder ophou werk sy hard om gemeenskapsleiers , gemeenskapswerkers en ook weldoeners bymekaar te bring ter wille van die distrik. Baie inwoners kyk op na haar, en sien haar as ‘n ‘engel van die dorp’ wat haar bearbei vir, onder andere, werksgeleenthede vir die jeug en bewusmaking van die nood by sopkombuise in Railton. Haar Projek Hoop bring ware hoop na ‘n hoopvolle gemeenskap.
Haar uitreike en onbaatsugtige diens aan die Railton gemeenskap word egter nie deur almal erken en in dieselfde positiewe lig beskou nie, en dit bedreig haar veiligheid en diegene wat saam met haar werk.
Doodsdreigemente is aan Vicky gerig wat haar noop om meeste van haar aksies en vergaderings tydelik te staak tot verdere kennisgewing, ter wille van haar eie veiligheid.
Die laaste van ‘n reeks dreigemente was juis op die vooraand van ‘n vergadering vir Projek Hoop in Railton – sy het verskeie rolspelers (insluitend die Munisipale Bestuurder en die ‘Swellendam Sports Council’) gereël vir Donderdag om te gesels oor die beoogde ‘Koop en Verkoop Mark’ asook ander kleiner projekte. Raadslede was ook uitgenooi na die vergadering. ‘n Groepie weldoeners sou ook die vergadering bygewoon het om te gesels oor uitreike en gemeenskapsprojekte vir Railton en die Distrik.
Vicky het die volgende op haar groep geplaas: “Ek het die afgelope paar weke doodsdreigemente ontvang, privaat aan my asook boodskappe wat op groepe geplaas is van ANC-lede. Die laaste reeks doodsdreigemente wat vandag ontvang is, bedreig ons gemeenskapsuitreik PROJEK HOOP sowel as enigiemand wat saam met ons aan daardie projekte werk.
Ek is laat weet dat as ek Railton binnegaan, ek nie weer sal uitstap nie, so in die veiligheid van myself asook almal wat saam met my aan PROJEK HOOP werk, is al die gemeenskapsuitreike, insluitend die diens van die 5 sopkombuise in Railton, tot verdere kennisgewing on hold.
Ander uitreike wat ook opgehou word, sluit in die Koop en Verkoop-mark, Studentevakansiewerk, Plekke van veiligheid in Railton en Swellendam, 2de handse klere- en boekversameling, Vaardigheidsontwikkelingskursusse, ens.

No Comment! Be the first one.