New Year Banner
News Opinion

SPOONIE: Eskom sit die ‘e’ in Suid-Afrika

Spoony

“Sal die laaste persoon, wat die land verlaat, net die ligte afskakel, asseblief.”

Onbekend

Eskom het ‘n instandhoudingsprogram wat 24 maande voor die tyd vasgestel word. Met ander woorde, wanneer daar noodsaaklike instandhoudingswerk by verouderende kragstasies gedoen moet word, besluit hulle 24 maande voor die tyd wat gedoen moet word en vind beplanning plaas oor hoe dit gaan gebeur en watter onderdele bestel moet word.

Die meeste van die meganiese onderdele van kragstasies word individueel volgens spesifikasie vervaardig en dit verg tyd.

Wat tans gebeur is noodinstandhoudingswerk waarvoor nie beplan is nie. Ons mag sê dit is swak beplanning en bestuur, maar daar is ook faktore soos doelbewuste sabostasie en voortgaande korrupsie.

Eskom, met behulp van die HAWKS, het nou ‘n sindikaat blootgelê by die Tutuka-steenkoolkragstasie wat maandeliks brandolie ter waarde van R100-miljoen gesteel het!

Brandolie is nodig om die opwekker aan te skakel as dit afgeskakel was. R100-miljoen is blykbaar deur Eskom betaal vir brandolie wat nooit gelewer is nie!

Ongeveer R1,4 miljard se toerusting is terselfdertyd by Tutuka deur werknemers en diewe gesteel! Talle werknemers en kontrakteurs is alreeds in hegtenis geneem. Daar word honderde miljoene betaal vir toerusting wat nie gelewer is nie!

Tutuka is gebou om 3 654 MW op te wek, maar lewer tans ‘n skamele 609 MW per dag.

Gevalle van sabotasie word ondersoek. Daar word kwaadwillig groot klippe en metaalvoorwerpe tussen steenkool ingegooi wat daartoe lei dat die opwekkingsmasjienerie breek.

Dan word die Kendall-kragstasie ook ondersoek waar die afkoelingstorings totaal afgeskeep is en beskadig is. Die herstel van hierdie skade kan tussen 3 en 4 jaar neem om te herstel!

Kendall lewer tans slegs 686 KW per dag teenoor die 4 115 KW opwekkingsvermoë!

Eskom

Intussen is Eskom se finansiële sake in ‘n benarde posisie; dus, waar gaan hulle geld bekom om die agterstand in instandhouding in te haal? Omdat die steenkool-kragstasies aanhoudend ingee, weens swak instandhouding, moet Eskom peperduur diesel verbrand om die nodige krag op te wek – met geld gekoop wat hulle nie het nie.

Ek is seker hierdie inligting sal oral in die pers beskikbaar wees teen die tyd dat u hierdie rubriek lees.

Ek is bevrees Eskom staan op die drumpel van algehele ineenstorting. Dan sal alle ligte eenvoudig afgeskakel word en die ekonomie sal tot ‘n algehele stilstand kom. Watter byvoeglike naamwoord sal sterk genoeg wees om dit te beskryf? Ek dink maar aan “katastrofies.”

Dink vir een oomblik hoe afhanklik die ekonomie is van elektrisiteit. Dink maar aan jou eie huishouding.

Dit is tyd dat u en ek planne moet beraam en geld moet uitgee ten einde geheel en al onafhanklik van Eskom voort te gaan. Daar is son en wind en ons sal dit moet begin benut om ons eie krag op te wek.

Ek gaan ‘n berekening doen met die oog op ‘n toekomstige Spoonie-rubriek. Ek gaan probeer kyk hoeveel MegaWatt nodig is om die ligte aangeskakel te hou.

Dan wil ek probeer uitvind hoeveel MegaWatt tans deur groen energie-boere opgewek word, maar nie deur Eskom benut word nie omdat die politici dit nie wil aanvaar nie. Ek wil die kans waag deur te sê dat die meer as 60 windkragplase en nog soveel sonkragplase altesaam baie meer krag kan opwek as wat ons dink – wie weet – dalk nog genoeg….

“Spoonie” sê: Bevraagteken alles. Moet ons dit aanvaar? Is daar nog opsies? Dink progressief en verantwoordelik. Soek na antwoorde, spesifiek op vrae wat niemand graag vra nie – maar wat belangrik is om die toekoms tegemoet te gaan.

LEES OOK:

Midas

Add Comment

Leave a Comment