Featured News

Skaars 24 en reeds aan die stuur van ‘n plattelandse Laerskool

Elme van de Vyver
Written by Mickey Mentz

Elmé Van de Vyver – die liefling van Lemoenshoek Primêr


Sy was maar 23-jaar oud toe sy noodgedwonge as waarnemende hoof van Lemoenshoek Primêr, ‘n klein plaasskool buite Barrydale, aangestel is.

Vars uit New York waar sy ‘n wonderlike oorbruggingsjaar na haar studies beleef het, het sy besluit om by ‘n plattelandse skool haar loopbaan te begin en toe die COVID-19 pandemie uitbreek, kon die skool nie onmiddellik ‘n nuwe
skoolhoof aanstel nie.

Die blonde jong dame van Somerset-Oos, wat pas met haar geliefde kolle-hond Rosie in Barrydale ingetrek het, was heel per toeval die beste gekwalifiseerde persoon om as hoof waar te neem.

Dit is nou al meer as ‘n jaar later en dit wil voorkom of daar geen einde aan Elmé Van de Vyver se entoesiasme is nie.

Elme Van der Vyver
In haar element: Elmé leef haar droom

Die vooruitgang wat die skool, waar daar sowat 80 leerders is, reeds onder haar leierskap toon spreek boekdele van die entoesiasme en selfvertroue waaroor sy beskik.

Sy is beslis ‘n rolmodel vir elke dogtertjie by die skool en vroue van regoor die land behoort na regte inspirasie uit haar storie te put.

“Ek het in 2018 een keer verby die skool gery op pad Oudtshoorn toe, dit is daar waar die skool al ‘n indruk op my gemaak het,” vertel Elmé.

“Ek kon al verbeel hoe ek een dag daar sou werk. Ek het ‘n tipe voorgevoel gehad. Dit is hoekom die skool se naam op die advertensie dadelik my aandag getrek het.”

Sy het ‘n paar dae nadat sy aansoek gedoen het bevestiging gekry dat die pos hare is, minwetende dat sy na slegs drie maande in die onderwys as skoolhoof sou moes optree!

Die uitdaging was groot. Die wêreld het vir ‘n wyle stil gestaan, maar toe dinge begin normaliseer was Lemoenshoek Primêr gereed vir aksie.

Elmé het nie op haar laat wag nie. Sy het die buitegeboue begin opknap, nuwe heinings laat span, nuwe sweetpakke ontwerp en laat maak en selfs ‘n eerste skoollied ( het die debuut uitvoering hiervan saam met die skrywer Ivor Swartz beleef) vir die skool geskryf.

Kyk daardie video HIER

Swartz het in 2020 die skool op Elmé se versoek besoek en sy verhaal het as uitstekende inspirasie vir die leerders gedien.

Een verbetering na die ander het Elmé dit haar lewenstaak gemaak om, dikwels uit haar eie sak, die omstandighede van die leerders van Lemoenshoek te probeer verbeter.

“As ek in die oggende uit ry skool toe, is my hart opgewonde, want dan weet ek dat ek op pad is om my droom en passie uit te leef. My liefde vir die kinders maak alles die moeite werd”.

Bo en behalwe ‘n spoggerige muur wat deur plaaslike kunstenaar Quinton Faro geverf is, het sy ook werk daarvan gemaak om die skool se voedingskema op te knap.

Die resultaat was dat die skema onlangs as derde beste van sy soort in die Wes-Kaap aangewys is. Die skool het R10 000 wat op verbeterings (natuurlik) spandeer is, ontvang.

“Ek moes die skool laat voortgaan tydens ‘n pandemie, en verseker dat kinders gehalte onderrig ontvang en beskerm word teen die virus, dit was beslis ‘n groot uitdaging en ek is dankbaar dat ek dit so ver gemaak het.”

Dit is dan vanselfsprekend of selfs ‘n natuurlike verwagting dat Elmé haar oog op ‘n permanente aanstelling het.

Elmé se liefkind Rosie

As alles volgens plan verloop behoort sy teen die einde van 2021 haar honneurs Graad aan die Universiteit van Stellenbosch te voltooi.

“Wanneer ek terug kyk op die afgelope jaar en ‘n half is ek oneindig dankbaar vir die mense om my wat my ondersteun het. Ek is trots op myself ook en ek is opgewonde oor wat die toekoms inhou.”

Elmé geniet die Barrydale lewe


Aanvanklik het haar ma Aretha (ook ‘n onderwyser) gedink haar dogter is van haar sinne beroof om in Barrydale van alle plekke te wou skoolhou.

“Nee, wat gaan jy in Barrydale maak? Daar gaan dan niks aan nie?” was haar ma se woorde.

Vandag is sy, nes meeste besoekers, mal oor die dorp waar haar dogter woon en sy maak ‘n punt daarvan om gereeld te kom kuier.

‘n Ander rede waarom Elmé die omgewing so vreeslik geniet is omdat Barrydale die dorp is waar sy die liefde van haar lewe ontmoet het.

Sy was heel onskuldig besig met haar inkopies by die plaaslike supermark toe sy en Petri Schoeman mekaar iewers tussen die koeldrank en skyfie-rakke gewaar het.

“Dit was “love at first sight”, met maskers en al,” vertel Elmé oor haar ontmoeting met die man wat later haar ‘steunpilaar’ geword het.

Saam maak die twee ‘n punt daarvan om die land plat te reis – dit is nou wanneer hulle swetterjoel troeteldiere (Petri is net so lief vir honde en het ‘n stuk of 3 pragtige brakke op die plaas) hulle toelaat om die huis te verlaat.

Petri geniet ook die buitelewe, hy is ‘n boer in murg en been en dit wil soms voorkom of hy dalk eendag die kitare wat in sy sitkamer stof opgaar gaan begin speel.

Hy is alombekend in Barrydale vir sy glimlag en goeie maniere.

“Ek het so lief geword vir die dorp en sy uniekheid,” verduidelik Elmé,

Sy beskryf haar verhaal wat nou maar in sy eerste hoofstuk is as een waar haar drome waar geword sonder dat sy te veel daaroor bekommer het.

Haar advies vir vroue daar buite is dus heel eenvoudig:

“Geen droom is te groot nie, ek weet dit klink cliché, maar ek het al geweet vandat ek klein is dat ek nog groot dinge wil bereik en dit het so met my gebeur sonder dat ek dit beplan het.”

“Doen wat jou passie is want as jy dit nie doen nie gaan elke dag vir jou aaklig wees.”

Hi-Tech Swellendam


Bulletin 20 jaar

About the author

Mickey Mentz

I sometimes dance naked in the canola fields of Swellendam, but when I wake up, I'm at home in my Barrydale bed. As die nuutste toevoeging to the Bulletin span sien ek daarna uit om die omgewing en sy mense beter te leer ken.

Add Comment

Leave a Comment