New Year Banner
News Opinion

SPOONIE: Vingertaal en voetuie

Spoony
Written by Mickey Mentz

Die mees algemene klagte, wanneer ‘n mens gedurende die huidige somervakansie met enige motoris gesels, is hoe besig die grootpaaie is, hoe baie voertuie op die paaie is en hoe moeilik dit is om veilig te bestuur.

Almal probeer geduldig bly, maar daar is altyd daardie dwaas agter die stuurwiel van ‘n vinnige sportmotor, wat dink dat hy onaantasbaar is. Hy dink hy kan enige beweging met sy vinnige motor uitvoer en sou hy in die moeilikheid kom, sal almal mos vir hom plek maak ten einde ongelukke te vermy.

Specsavers

Dit is irriterend! Dit toets jou geduld en dit verg navorsing deur in jou eie geheuebank na swetswoorde te gaan soek om jou frustrasie uit te spreek.

Gelukkig ken ek ‘n bietjie vingertaal wat jare gelede deur die dowes gebruik is. Elke letter in die alfabet had ‘n vingerteken. Toe ek as hoërskoolkind teen die Skool vir Dowes, op Worcester, kompeterend gestoei het, het ek ook die vingertekens by hulle geleer.

Wanneer die dwase egter rondom my dwase padgedrag uitstal, dan is dit nie in die “woordeskat” van die dowes wat ek vir hulle wil wys om my misnoeë uit te spreek nie…..

My oorle’ pa was ook nie een van die geduldigste bestuurders wat ek ken nie. Hy het altyd gesê: “Ek kan nie verstaan waarom almal so stadig ry wanneer ek haastig is nie.”

Wanneer ons in KZN gaan kuier, moet ons vanaf die King Shaka Lughawe per pad by Howick uitkom.

Meer as dikwels huur ons dan ‘n vervoerdiens van ‘n sekere Indiërman wat 6 motors het wat passasiers by hul bestemmings besorg.

Hy is nie goedkoop nie, maar na die lang gesit op die vliegtuig, is dit darem baie aangenaam om nie dadelik weer te bestuur in ‘n vreemde omgewing waar die verkeer net nooit kalmeer nie.

Ek het iets by hom geleer. Hy word absoluut nooit kwaad vir dwase en Taxi’s op daardie besige paaie nie.

Al wat hy doen is om kalm terug te val en die dwase kans te gee om hul dwaashede uit te voer. Hy kies om hom nie oor die dwase te ontstel nie. Hy sit heerlik rustig en bestuur en stel sy passasiers absoluut op hul gemak.

En hy is heeltemal reg. Dink net wat die moontlike uitkomste kan wees as hy hom heeldag en aldag vir elke tweede motoris moet vererg. Afgesien van die feit dat hy doelbewus kalm bly, kom hy nooit naby ‘n moontlike ongeluk nie en voel sy eie passasiers ook op hul gemak.

Deesdae weet mens ook nie meer wanneer jou padwoede in ‘n kettingreaksie van padwoede gaan ontaard nie.

Hoe weet hy wanneer die ander motoriste nie dalk verby kookpunt gefrustreerd is nie en indien hy sou reageer, mag daar dalk vuurwapens tevoorskyn gebring word. En wie is dan die moontlike verloorders? Net hyself en sy passasiers.

Hier aan die einde van die somervakansie van 2021/22 wil ek vra dat alle motorbestuurders eerder stadiger as vinniger sal probeer ry. Moenie onnodige kanse vat nie.

Begin jou reis eerder vroeër en ry langer, maar bly kalm en kom veilig aan. Ek het geleer om geduldig die spoed te ry wat die meerderheid van die ander voertuie ry. Wag vir veilige verbygaanplekke.

Sit jou kopligte aan vir beter sigbaarheid. Wees bedagsaam en gun ander haastiger dwase hul dwaasheid. Laat die dwase wegkom en ry dan rustrig verder.

‘n Voorspoedige nuwejaar vir al die lesers van die Langeberg Bulletin!  Mag ons almal vanjaar gesond bly en mag dit met ons almal beter gaan as in 2020/21.

Jou eie gesondheid is nie vanselfsprekend nie. Pas dit op en lewe met groter verantwoordelikheid as in die verlede.

Lees Ook:

Midas

About the author

Mickey Mentz

I sometimes dance naked in the canola fields of Swellendam, but when I wake up, I'm at home in my Barrydale bed. As die nuutste toevoeging to the Bulletin span sien ek daarna uit om die omgewing en sy mense beter te leer ken.

Leave a Comment