New Year Banner
News Opinion

Wat is jou storie nou weer?

Book worm

Wees gegroet, alle sielvolle Swellendammers!

Ek lees gister die ou biblioteek langs die Munisipaliteitskantore is besig om boeke op te pak om na hul nuwe tuiste te trek.  Nie-fiksie boeke is al ingepak, maar jy kan nog jou hygromans uitneem.

En die laat my mos dink…

Bokmakiri Bookshop Swellendam

Hoeveel van ons gaan nog biblioteek toe?  Lees ons nog stories, of is ons al so gekondisioneer met facebookopsommings en kwettertwiets dat ons nie meer kans sien vir enige gedrukte formaat van meer as 5 bladsye nie?

Ons lees nie meer koerante nie (dankie dat jy wel hierdie kolom lees!) – lees eerder maar net hoofopskrifte en maak dan sommer ons eie storie op.  Met al die fopnuus daar buite is dit dalk beter om jou eie berig te versin.

Maar om terug te keer na biblioteekboeke.

Weet jy daar is iets soos ‘n mensbiblioteek (‘human library’)?

Ja regtig.  Dit is ‘n wêreldwye beweging wat hul beywer vir sosiale verandering in gemeenskappe.  Jy kan ‘mensboeke’ uitneem en na stories luister oor hul lewe – lekker persoonlike gesprekke om ‘n beter begrip vir die vreemdheid van die mensdom te kry, respek vir ander te kweek en stereotipes af te breek.

Daar is alreeds mensboeke in plekke soos Indië, Swede, die VSA, Nieu Zealand en Brittanje. Vrywillige mensboeke is mense soos ek en jy – ordinêr, nie beroemd nie.  Mense met ‘n storie om te deel.

Dink net hoe oulik kan hierdie in ons distrik werk, en aan al die interessante afdelings in die Swellies Mense Bib – amper soos ‘youtube videos’ in lewende lywe..

‘n Herfsblaarseksie met gryskop ooms en tantes uit ‘n vorige eeu.  Oupa’s en ouma’s wat sonder selfone moes klaarkom, en straks nog botter moes karring van Blommie die koeitjie se volroommelk.

Die kook-en-geniet seksie met tant Sarie wat ‘n spesiale mosbeskuitresep deel of neef Kobie wat verduidelik van sy ribbetjiemarinade.

Susan kan gesels oor hoe sy van haar pers hare ontslae geraak het in die ‘wat-het-my-besiel seksie’.  Juffrou de Beer kan vertel van die dag toe Pietertjie met die muis in sy broeksak ‘n graad 2 stormloop veroorsaak het in die ‘is-jou-kind-aandagafleibaar?’ afdeling.

‘n Selfhelpseksie met Lena wat verduidelik hoekom moord nooit ‘n opsie is nie, en hoe om te mediteer as jou man jou teen die mure uitdryf.  Vinnige Fanie wat kan raad gee oor hoe dit klink as jou Chevie Spark sy vuur verloor het teen Tradouwspas uit.

Persoonlik dink ek die interaktiewe afdeling is meer interessant. 

Ek sou graag ou Mark Zuckerberg wou uitneem en vir ‘n ewigheid laat luister na my tirade oor hoeveel tyd sy facebookblad al van my gesteel het.  As jy al ooit gou op facebook geloer het omdat jy so 5 minute kan spaar, en jouself 3 ure later moet wegskeur van jou foon omdat die pasta op die stoof al hoeka drooggekook het, sal jy heeltemal verstaan..

Die ander vraag natuurlik is die boetes vir mensboeke wat laat teruggeneem word – ek dink nie ‘n halfuur met George Clooney is heeltemal genoeg nie!

Zen groete, Sussie!

Sussie
Midas

Leave a Comment