Community News

Swellendam se veiligheid is haar brood en konfyt

Gerda Uren Hi-Tech
Written by Mickey Mentz

Gerda wil saam met haar gemeenskap misdaad hokslaan

Gemeenskapsveiligheid is haar brood en botter, maar die konfytsoet smaak wat sy geniet elke keer as ‘n kliënt hulle tevredenheid met Hi-Tech Swellendam se diens uitspreek, is die eintlike ding wat Gerda Uren soggens laat opstaan.

Deur die loop van die afgelope vyf jaar het sy baie lief vir Swellendam en sy mense geword. Dis juis daarom dat sy bekommerd is oor die misdaad in haar dorp wat besig is om ‘n probleem te begin raak.

Gerda is egter nie een vir te kla en pessimisties wees nie. Sy hoop steeds vir ‘n blink toekoms vir elke inwoner van Swellendam en staan gereed om te help net waar sy kan.

Hi-Tech het ook onlangs daad by woord gesit deur videokameras aan Swellendam SAPD te skenk om te help om hul werk ‘n klein bietjie te vergemaklik.

“My dorp, my kliënte en mense is my passie en dit gaan jy nie gou verander nie,” verduidelik vuurvreter vrou-van-formaat Gerda Uren.

“Misdaad het egter oor die laaste tyd in Swellendam begin toeneem. Talle mense sit sonder werk en dan is daar ook die kwessie van dwelmmisbruik wat ‘n groot bydraende faktor is.”

“Ons sal moet begin saamwerk.”

As ‘n vrou wat daagliks met die land se kriminele element te doen kry, weet sy presies hoe belangrik die rol van sekuriteitsmaatskappye geword het.

Hi-Tech bied reeds vir baie jare bystand aan die owerhede waar hulle kan en ‘n groot deel hiervan is misdaadvoorkoming deur sigbare polisiëring.

Soos dit ‘n puik sekuriteitsbestuurder betaam, het sy altyd ‘n oor op die grond en daarom kan Gerda getuig dat Swellendam – nes dit die geval in elke dorp in die land is – nie van die effekte van die Covid-19 pandemie gespaar is nie.

“Die besluite wat ons as gemeenskap nou neem is baie belangrik. Ons het nog ‘n kans om te verhoed dat ons nie in die spore van soveel ander dorpe wat die voorkoming van misdaad aanbetref, trap nie.”

Gerda Uren

“Die inwoners van ons dorp kan met reg baie dankbaar wees teenoor Gerda vir dit wat sy vir ons mense se veiligheid doen. Ek wil daarom vir haar bedank vir die onbaatsugtige aandeel wat sy lewer. Dit maak nie saak watter tyd van die dag of nag dit is nie, Baie dankie, Gerda” – Raadslid Elna Lambrecht

Gerda weet dat dit al hoe moeiliker vir mense raak om kos op die tafel te sit. Sy sien hoe mense wat altyd kon gee en uitdeel, nou ook begin sukkel. Sy beleef die uitwerking wat die pandemie op mense se gemoedstoestand het feitlik daagliks, maar sy bly positief. Sy het geen ander keuse nie.

“Ons probeer om die polisie te help waar ons kan. Hulle werk onder vreeslik baie druk en ‘n groot deel van die probleem is dat mense nie meer insidente rapporteer nie.”

Diè laksheid om inbrake en ander voorvalle aan te meld, is vir Gerda ‘n groot bron van kommer.

Waar speurders voorheen aansienlik meer leidrade gehad het waarmee hulle misdadigers kon vastrek, is dit nou amper onmoontlik om die modus operandi te bepaal.

Bulletin Buzz
Click op die prentjie om na ons weeklikse potgooi te luister

Gerda het ‘n pragmatiese benadering tot sake

Misdaad het nou wel nog nie in Swellendam hand uitgeruk nie, maar die skrif is aan die muur en die tyd op op te tree is, wel, gister.

“As gemeenskap sal ons moet saamstaan, ons moet begin kyk na ons bure, ons moet die klein verskille op sy laat staan en vir mekaar omgee. Dit is al hoe ons hierdie stryd gaan wen.”

Sy meen dat inwoners eenvoudige stappe kan neem om sekere kriminele elemente hok te slaan.

Om bedelaars wat in woonbuurte rond dwaal kos en selfs geld te gee het, volgens haar, dikwels baie tragiese gevolge.

Sy glo dit is beter om mense na organisasies soos CAP (Community Action Partnership) te verwys.

“CAP speel ‘n groot rol in die versorging van mense wat in nood is en sedert Gerhard Swanepoel ook daar betrokke geraak het, word nog meer uitstekende werk verrig.”

Waaksaamheid is uiters belangrik

“Dit is tyd vir mense om meer betrokke by die buurtwag te word. Om in te skakel by groepe wat ‘n pols op misdaad het.”

Gerda verstaan dat dit nie almal se gunsteling tydverdryf  is om patrollie te ry nie, maar om die oë en ore van die polisie te wees – al is dit net om verdagte persone te rapporteer – kan ‘n verskil maak.

“Al sit jy net vir ‘n uur of wat per dag op jou stoep en hou jou straat voor jou huis dop, kan jy ‘n verskil maak.”

“In ‘n gemeenskap moet jy hande kan vat en mekaar kan bystaan en sê: “Kyk: Ons het ‘n situasie, kom ons probeer dit vir almal verbeter.”

Definitiewe toename in inbrake

Items wat onlangs uit wonings verdwyn het sluit in: dakplate, gasbottels, pale, heinings, voertuig-batterye, selfone, rekenaar-tablette en televisies.

“Hierdie is alles goed wat gou verkoop kan word en wat in groot aanvraag is.”

Die bose kringloop van werkloosheid wat lei tot depressie en  dwelmmisbruik is ‘n realiteit in Swellendam en Gerda het belowe dat sy en haar Hi-Tech span nie vir ‘n oomblik op hul louere sal rus nie.

“Ons is hier om ‘n diens te lewer en ons glo dat ons altyd ons diens kan verbeter, tog weet ons ook dat ons ons deel bring om die veiligheid van almal (ons kliënte en die publiek) te verbeter.”

Bulletin 20 jaar

About the author

Mickey Mentz

I sometimes dance naked in the canola fields of Swellendam, but when I wake up, I'm at home in my Barrydale bed. As die nuutste toevoeging to the Bulletin span sien ek daarna uit om die omgewing en sy mense beter te leer ken.

Leave a Comment