Food News

Swellendammers maak weer skoonskip van Skaapkop

Swellendam Skaapkop
Written by Mickey Mentz

Oudergewoonte kon Swellendammers nie wag om hul hande en tande op die delikatesse wat skaapkop is te kry nie.

Die 100 skaapkoppe het weer soos soetkoek tydens 25 Augustus se fondsinsameling vir Huis AA Tomlinson verkoop en hoewel die gebruik wat voorheen ook deel van ‘n behoorlike dorpskuier uitgemaak het weer weens Covid-19 in wegneemete formaat moes geskied, het die gemeenskap met oorgawe hierdie tradisie ondersteun.

Natuurlik was daar ook beesstertpotjie vir diegene wat nie van beter weet nie en die brood, smeer, konfyt en nagereg was opsigself van watertand gehalte.

En die harde werk wat die manne agter die vure verrig het, het net weereens bewys dat as daar in die dorp hande gevat word, kan daar baie vermag word.

Die tradisie is beslis een wat behoue moet bly.

“Hierdie tradisie het in 1995 begin toe ons as ‘n groep van ses vriende saam skaapkop begin voorberei het,” vertel Phillip Groenewald.

“Ons het dit maandeliks gedoen en elke vriend het dus twee keer per jaar die geleentheid gehad om die dis voor te sit.”

Later van tyd het die groep vriende besluit om die skaapkopbraai as deel van fondsinsameling vir liefdadigheidsorganisasies tydens die Swellendam skou voor te sit en so het 12 skaapkoppe per jaar gou tot 30, 60 en later 100 vermeerder.

VIDEO: Onderhoud met onder burgemeester Mitchell Pokwas

Die skaapkoppe wat hierdie jaar by die Swellendam Skougronde verkoop is, is by Van Rensburg Slaghuis in George aangekoop en volgens Groenewald het dit die verantwoordelikheid van die jong manne geword om dit te braai.

Skaapkop is ‘n vyfgang maal

“Mense besef nie altyd dat skaapkop ‘n vyfgang maal is nie,” het Groenewald vertel.

Hy meen die wang smaak soos boud, die tong soos tong, die nek soos nek en dan moet die oë en harsings saam met brood en konfyt genuttig word.

“Hierdie is ‘n delikatesse en ‘n baie spesiale een in Swellendam.”

Manie Meyer, Bestuurder van Huis AA Tomllinson, en Jerry van Vuuren, Voorsitter van die Beheerliggaam by die Tehuis, bedank die gemeenskap vir hul ondersteuning. Ook ‘n spesiale dank vir alle spontane bydraes en aan donateurs wat soos elke jaar hul harte en sakke oopmaak vir die geleentheid.

Lees ook:


Bulletin 20 jaar

About the author

Mickey Mentz

I sometimes dance naked in the canola fields of Swellendam, but when I wake up, I'm at home in my Barrydale bed. As die nuutste toevoeging to the Bulletin span sien ek daarna uit om die omgewing en sy mense beter te leer ken.

Leave a Comment