Bulletin Buzz podcasts
Community Crime News

Swart sakke vol perlemoen uitgegooi in jaagtog deur Swellendam Nywerheidsgebied

swellendam perlemoen jaagtog

Elana Theunissen; 08-03-22

Swellendam – In ‘n jaagtog op die N2 en deur Swellendam nywerheidsgebied is sakke vol perlemoen deur die verdagtes by hul motor se venster uitgegooi.

Volgens SAPS woordvoerder in Swellendam, AO Marlene Hartzenberg, is inligting ontvang van ‘n verdagte voertuig wat Sondagmiddag, 6 Maart 2022, net na 17:00 op die N2 opgemerk is. “Die voertuig op die N2 rigting Swellendam het vermoedelik perlemoen in hul besit gehad”, verduidelik Hartzenberg. “Die voertuig wat weggejaag het, is agterna gesit, en is weer opgemerk in die Industriële gebied waar die insittendes swart sakke by die venster uitgegooi het.”

Aldus Hartzenberg is die swart sakke later oopgemaak en gevind dat dit ontskulpte perlemoen bevat – die waarde daarvan op hierdie stadium onbekend.

Die voertuig is gevind op die Bredasdorppad waar drie manspersone inhegtenis geneem is. “‘n Saak van besit van perlemoen is ge-open”, sê Hartzenberg.

Ten tyde van die insident is ‘n saak van poging tot moord ge-open deur ‘n lid van die publiek, waar beweer word dat daar skote afgevuur was. Hierdie saak word ook ondersoek.

Die Bulletin is Sondag laatmiddag deur ‘n bekommerde lid en betroubare bron van die publiek gekontak oor skote wat gehoor is in die nywerheidsgebied.

Die persoon het gesien dat ‘n gedeelte van die pad in Koornlandstraat (naby Platsak Wegneemetes) in die nywerheidsgebied afgespêr was deur SAPS beamptes en swart sakke was sigbaar. ‘n Plaaslike wag en reaktiewe sekuriteitspersoneel was ook op die toneel opgemerk.

OPVOLG:

Besit van perlemoen

Die drie beskuldigdes wat na ‘n jaagtog op die N2 sakke vol ongeskulpte perlemoen in Swellendam Nywerheidsgebied gegooi het, het weereens op 14 Maart 2022 in die plaaslike Landdroshof verskyn op klagtes van besit van perlemoen. Die beskuldigdes is vrygelaat op ‘n boete van R5000-00 elk. – W/O Marlene Hartzenberg, SAPD Swellendam

Leave a Comment