Bulletin Buzz podcasts
Community News

Hartseer groet na 56 goue jare saam

George

Deur Elana Theunissen

In Oktober 2020 het die Langeberg Bulletin ‘n pragtige beriggie gedeel van ‘n spesiale egpaar wat hul 55ste huweliksherdenking gevier het.  Die paartjie, George en Marinda Ndarala, was nog net so verlief as die dag toe hul mekaar die ja-woord gegee het. 

In ‘n opvolg met die familie en kleinkinders het die Bulletin die hartseer nuus verneem dat, na ‘n leeftyd en 56 geseënde jare saam, George op 9 Januarie 2022, op die ouderdom van 92, gesterf het. 

Marinda self is twee jaar gelede gediagnoseer met limfklierkanker en het wonderbaarlik die kanker oorwin.  Na George se afsterwe ondersteun die familie haar nou meer as tevore, en onder omstandighede gaan dit met haar goed.

George en Marinda Ndarala, op die viering van hul 55se huweliksherdenking 

Sê Rudy Snyman, kleinkind: “Dit was ook ‘n voorreg om nog vir Oupa en Ouma albei vir Kersfees in Bonnievale te kon hê vir ete, min wetend dat dit Oupa se laaste sou wees met familie en vriende.” 

George is gebore op 5 Desember 1929 in die Oos- Kaap te Lady Frere wat tans as die Chris Hani distrik bekend staan.  Hy was die enigste seun van Charlie en Dora Willemse.    

Oupa George laat ‘n groot leemte in die lewe van sy kinders en kleinkinders.   

“Oupa was ‘n hardwerkende mens en moes ook skool vroeg verlaat want Oupa het geglo ‘n man moet werk. 

Oupa het vir baie jare in die Swellendam distrik gewoon waar hy ‘n geharde biltongmaker op Protem was. Hy was geliefd deur almal en het met sy sagte liefdevolle karaktereienskappe wyd spore getrap. 

In 1963 kom Oupa tot inkeer en dien as Ouderling vir 59 jaar. Vir 56 jaar was Oupa en Ouma Marinda getroud en uit hierdie huwelik was daar sewe kinders gebore, drie dogters en vier seuns waarvan een seun alreeds oorlede is. 

Oupa en Ouma is geseën met 22 kleinkinders, vier is alreeds oorlede en verder word hulle geseën met 16 agterkleinkinders waarvan een ook alreeds oorlede is.  

“Hamba Kahle Oupa George” 

Leave a Comment