New Year Banner
Municipal Election 2021 News

Plaaslike kandidate sê mekaar die stryd aan in politieke resies voor verkiesingsdag

Jesse Duarte

Deur Bulletin redakteur Elana Theunissen

Met die plaaslike munisipale verkiesing slegs ‘n paar dae weg op het die onderskeie politieke partye se verkiesingsveldtogte versnel en meeste kandidate het voluit gegaan om vir oulaas met hul kieserskorps te kontak, en ‘n paar stemme in hul rigting te swaai.

Natuurlik, soos verwag word, was die twee groot partye wat mekaar die stryd aansê, die ANC en DA, uit in volle mondering.

Die ANC se geel en groen vlae het verlede Vrydag alreeds hoog gewapper toe hul met hul kavalkade vanaf Barrydale na Suurbraak, Buffeljagsrivier en uiteindelik Railton beweeg het.

Jesse Duarte lê besoek af

Hul het ook groot kanonne vanaf nasionale regeringsvlak ingespan om hul boodskap uit te dra en met ondersteuners te gesels.  Die adjunk sekretaris-generaal van die ANC, Jesse Duarte, het by die plaaslike ANC span in Barrydale aangesluit.

Die Langeberg Bulletin het geleentheid gehad om in Swellendam eksklusief met Duarte te gesels oor die ANC se visie en werksaamhede in veral die Wes-Kaap. 

Klik op die skakel hier onder om na die onderhoud te luister.

Duarte on the ANC in the Western Cape

DUARTE: Ontwikkeling bly ‘n probleem

Nader aan die huis het Duarte haar skerp uitgespreek oor die gebrek aan ontwikkeling in die Swellendamdistrik.

Sy sê die grootste probleem wat sy opmerk en hoofkwessie wat vir haar uitstaan is ontwikkeling.  Sy het Swellendam in 1994, en weer in 2016 besoek, maar niks het intussen veel verander in die gebiede wat sy besoek het nie.

“Ek loop op dieselfde stofpaaie, sien dieselfde gebreekte huise wat inwoners probeer aanmekaar lap, en steeds nog sink- en houtstrukture soos tevore”, sê Duarte. 

“Sommige van die huise is gebou deur die ANC, en ander deur die DA, maar daar is geen oorhoofse groot plan vir behuising vir inwoners nie.”  “Ons hou die oulikheid van die armer dele voor vir besoekers om foto’s te neem en prentjies te skilder, maar vir diegene wat in die behoeftige omstandighede bly is die prentjie nie so oulik nie.”

VOICE: Duarte on Swellendam

Duarte het haar sterk uitgespreek oor die feit dat nie alle huise elektrisiteit het nie, en vir diegene wat wel die luuksheid het, is dit onbekostigbaar duur. Nie elke huishouding het lopende water nie, en dus ook nie spoeltoilette nie. 

“Die mees menswaardige geskenk wat jy aan iemand kan gee, is ‘n spoeltoilet in sy huis”.

Duarte is verder ook bekommerd oor die gebrek aan buitemuurse aktiwiteite en rekreasie vir jong kinders in die distrik.

“Terwyl ons deur die areas gery het, het ek geen behoorlike sportsfasiliteite gesien nie, slegs oop velde. 

Sekretaris-generaal van die ANC, Jesse Duarte, saam met die party se plaaslike verteenwoordigers

“Wanneer jy egter deur Swellendam ry, is daar sportsvelde, fasiliteite, aktiwiteite en ‘goeters’ om kinders besig te hou.  Maar wie se ‘goeters’ is hierdie?”  vra Duarte.

“Die hoof kwessie in die Swellendamdistrik is ontwikkeling.  Ons mense verdien die reg om te ontwikkel en versorg te wees.”

DA Verf Distrik Blou

Die DA se verkiesingstrok het verlede Saterdag die distrik blou geverf met hul laaste padvertoning deur die distrik, en het ook die roete gevolg vanaf Barrydale, Suurbraak, Buffeljagsrivier tot in Swellendam en Railton. 

Die grys eendeweer het geensins hul entoesiasme gedemp nie en veral in Francois du Rand, waarnemende Uitvoerende Burgemeester, se wyk in Railton was die blouspan uitgelate ontvang.

Die DA het die distrik blou geverf

Vryheidsfront Plus stel kandidate voor

Die Vryheidsfront Plus het op Dinsdagaand, 26 Oktober, die distrik se kandidate voorgestel by die Voortreksaal.

Cecil Africa, eertydse Munisipale Bestuurder tussen die tydperk 2013 tot 2017, het belangstellendes en moontlike kiesers toegespreek oor die uitdagings in die distrik, en die morele verval wat ook in Swellendam en omgewing kop uitsteek. 

In sy toespraak het hy veral verwys na ongerymdhede wat hy teëgekom het tydens die vorige Uitvoerende Burgemeester se bestuursperiode. 

Volgens Africa is die DA nie veel bekommerd oor die mense in die distrik nie, en verstaan nie dat hul aangewys is deur inwoners om te dien nie. 

Sy boodskap aan voornemende raadslede is om kontak te behou met inwoners, en sodoende ‘n verskil te maak.

Die Vryheidsfront se kandidate tydens hul bekendstelling in Swellendam (sien ook skakel bo vir meer inligting oor onderskeie kandidate)

“Individue soos ek en jy kan ‘n verskil maak en die verval stop voordat dit oorneem”, sê Africa. 

“Staan saam. Staan sterk in diens van die gemeenskap.”  Hy het partyhoofde gemaan om raadslede met kaliber en sterk karakter te kies.”  Vir die inwoners het hy aangeraai om versigtig te wees vir wie hul kies, en vir die regte mense te kies.

Juan van Schalkwyk, voorsitter van die Vryheidsfront Plus in Swellendam, het voornemende kiesers gemaan om individue met sterk morele waardes te kies as raadslede – mense wat bevoeg is om leiding te neem en ook wat belastingbetalers se belange op die hart dra.

“Moenie toelaat dat vrees jou stem en kruisie bepaal nie”, sê van Schalkwyk.

“Kom ons vat hande. Saam kan Swellendam ‘n verskil maak. Moenie jou stem verwater nie, en gee aan een enkele party jou mandaat om jou te verteenwoordig in die wyke, op proporsionele vlak en ook in die distrik”. 

Die Vryheidsfront Plus sien hulself as die Christelike konserwatiewe waghond wat ‘n eiesinnige Raad tot orde kan roep.  Die Party is gebou op Christelike waardes en dra die vaandel van #belastingbetalers-Eerste.

Ander kleiner partye in die distrik het hul toegespits op ‘n meer persoonlike gesprekke met hul kieserskorps en deur-tot-deur kontak met inwoners.

Midas

Leave a Comment