Bulletin Buzz podcasts
News Opinion

Ouderdom is nie kinderspeletjies nie

Spoonie

Deur Spoonie

Welkom terug aan alle Swellendammers wat die onlangse vakansie elders gaan deurbring het.

Ons vertrou die komende jaar gaan vir almal voorspoedig wees en dat ons almal aan die einde van die jaar mekaar steeds vriendelik gaan groet – in goeie gesondheid. Ons harte gaan uit na die gesinne wat die afgelope jaar hartseer en teleurgesteld gelaat is deur die nare goed wat ons elke dag teister.

Ouderdom is nie kinderspeletjies nie. Ouderdom bring baie veranderings – veral aan liggaam – die uiterlike. Die innerlike is steeds vars en nuut – maar veral wys.

Jongmense wat so krities teenoor ouer mense staan, kan gerus maar weer dink. Die selfoon in hul hande, die tegnologies gevorderde elektriese hardeware op hul tafels, op hul kombuistoonbanke en deesdae ook die motors wat hulle ry, is nie deur húlle ontwerp nie, maar deur die ouer mense wat kamstig niks weet nie en nie meer in voeling met die werklikheid is nie.

Mans trou met vroue en hoop hulle verander nooit. Vrouens trou met mans en hoop hulle verander ten goede. Aan die einde van die dag word nie een van die twee wense waar nie.

Vier van die grootste geeste en leiers in die Afrikaanse musiekindustrie, is Koos du Plessis, Lukas Maree, Koos Kombuis en Stef Kruger.

Eersgenoemde en laasgenoemde is twee van die bekendste liedjieskrywers in die geskiedenis van Afrikaanse musiek. Eersgenoemde twee is nie meer met ons nie. Maar ons ken hulle en geniet steeds hul musiek.

‘n Mooi storie, aangaande hierdie viermanskap, is dat hulle as jongmanne, steeds onbekend, saamgewoon het in ‘n woonstel in Sunnyside, Pretoria.

In daardie woonstel het hulle saam liedjies geskryf en musiek gemaak. As groep het hulle vier saans in verskillende kuierplekke musiekgemaak. Soms het hulle net “gespeel vir die hoed” wat omgestuur is en daarna het hulle daardie selfde aand uitgedrink wat in die hoed was.

Ek is self baie lief vir die musiek van oorlede Lukas Maree, veral sy “Victoriabaai.” Lucas het onder andere ‘n pragtige gediggie geskryf wat ek vandag aan elke persoon, so oud soos ek en ouer, wil opdra. Lees mooi en verander jou siening van jouself. Ek skat hy het dit geskryf toe hy al bietjie ouer was:

Die tyd het oor my lyf geloop

En my nie juis gespaar nie.

My moed in die proses gestroop,

Want mooi is nie meer daar nie.

Toe soek ek rond, van plek tot plek –

Verloor amper my sinne,

Tot ek voor die spiëel ontdek:

Dalk is die mooi nou binne….

~ Lukas Maree

Elke mens is waardevol. Elke mens is noodsaaklik. Elke mens het ‘n uiters belangrike rol om in die lewens van ander mense te speel.

As jy deur ander as “oud” gesien word, beteken dit nie ‘n vernedering nie – dis jou kroon! Jy is uiters bevoorreg om nog te lewe en om te lewe maak jou verantwoordelik om jou rol te speel.

En wanneer die oproep tot hoër diens kom, lewe jy deur die deur van die dood. Die dood is vir jou die uitblaas van die kers, want die dag het aangebreek…

Luister gerus ook na die snit:

Leave a Comment