New Year Banner
News Opinion

Die Kersboom dilemma

COvid Face Mask

Wees gegroet, alle sielvolle Swellendammers!

Nou kyk, dit is mos nou die tyd van die jaar waar winkelrakke vloer tot dak gepak word met plastiese groen, wit en selfs pienk kersbome.  En jy kan regtig kies hoor….  van effe-duur tot peperduur (wees maar reg – die boom gaan jou sak goed ruk).

Vol bravade stap ek ons plaaslike supermark binne met die gedagte om die familie se verweerde plastiese boom, wat al ’n hele paar jaar die sitkamerhoek verlig, met ietsie meer hedendaags en modern te vervang, en sommer hier en daar ietsie nuuts en blinkerigs vir die takke op die koop toe.

Dit is regtig al hoog tyd.  ‘Old Faithful’, ons groen staatmaker, het plek-plek ‘n kaal kol waar Yoda, die swart duiwelskat, stil-stil naels skerpgemaak en verbleikte groen dennenaalde afbaklei het.

Druipstert keer ek maar huiswaarts van my inkopietog.  Die enigste boom wat my sak en begroting pas, is ‘n klein dofgroen affêrtetjie, net effe hoër as ‘n liniaal.  Selfs al sê die etiket ‘Noble Pine’ is daar niks edel aan die piepklein kersverskoning nie.

Skok op skok gaan deur my soos my oë die rakke verken.

Groter dennenaaldgedoentes verkoop teen sowat R3 per sentimeter – ‘n kniehoogte groenboomnamaaksel teen so R400 (R900 as dit sommer klaar liggies aan het), en ‘n allemintige R600 sou ek ‘n wit sneeukersfees wou vier.  Ek sien hoe my beursie al dunner raak hoe hoër die boom.

Maar ‘n boer maak ‘n plan, en ‘n boervrou raak kreatief.

Laatnag trek ek Google en Pinterest nader vir ‘n paar idees hoe om nuwe lewe in my goue oue te blaas.  Het ook sommer supergom by die Sjinees gekoop om die groenerigheid so hier en daar te las en pas.

Maar so deur die aand gaan daar ‘n hele nuwe wêreld voor my oop.  Vergeet van gom en stokkies.

Vir beknopte spasies kan mens modern en minimalisties oorweeg, en hiervoor kry jy deesdae selfs halwe bome, ideaal vir hoekstaan.  Hoe innoverend. 

Miskien kan ek die snoeiskêr nadersleep en die agterkant van my boom wegsny.  Briljant!  Ek kort ook net helfte soveel balletjies en liggies vir die voorkant.  Hoe knus gaan die boom in die hoek staan!  Siedaar, met ‘n spieel agter lyk dit selfs soos ‘n volronde boom.  Ek kan straks ook ‘n vriendin kry om ‘n nuwe boom met my te deel (gedeelde kostes – dan kan ons dubbeld so groot koop!).

Maar sê my bietjie, watter kersboompolisie het bepaal dat jy slegs ‘n groen dennenaaldnamaaksel mag gebruik?  Die internet sê die wêreld is my oester! 

Idee na idee flits op my rekenaarskermpie.  Geen boom?  Geen probleem. 

Kersliggies gedrapeer in die vorm van ‘n boom lyk alte feestelik.  Iemand het in haar motorhuis ‘n ou leer gevind.  Met ‘n paar stringe klatergoud en ‘n goue stêr op die boonste trap – DIY Sjiek.  Het jy ‘n groen gewete?  Bly jy naby die vullishoop?  ‘n Plastiese bottelboom gevul met skitterliggies sal selfs norse ou Greta Grumberg laat glimlag.

Beter nog.  Kom ons volg die Amerikaanse tradisie en gebruik elke jaar vars groen bome.  En voordat al Swellendam se ‘treehuggers’ my teer en veer, ons gebruik indringers!  Wie het ‘n saag?  Ek dink my kersboom hierdie jaar is ‘n nare ou ‘Black Wattle’.

Zen groete, Sussie!

Sussie
Midas

Add Comment

Leave a Comment