Ontmoet Seymour Heunis gebore te Suurbraak. In 2018 matrikuleer hy aan die Hoërskool Heidelberg. Seymour is tans ‘n finale jaar student aan Universiteit Wes-Kaap, waar hy hom kwalifiseer in onderwys. Hy volg die B Ed kursus en spesialiseer in Engels en Lewensoriëntering.

Aanvanklik sou hy joernalistiek of drama studeer, maar die onderwysgogga het hom behoorlik gebyt toe hy as onderwysassistent by die plaaslike laerskool, Suurbraak Primêr, uitgehelp het.
Die aanpassing van skool na Universiteit was ‘n uitdaging en het baie selfdissipline geverg. Verblyf was taamlik ‘n nuwe belewenis. Seymour, ‘n kranige sportman, speel ook sokker en rugby vir sy koshuis, Cecil Esau.

Hy is die oudste seun en trots van Ma, Reinette Heunis, en het ook ‘n jonger broer, Rudi.
Sy boodskap aan die jeug: “Wat jy saai sal jy maai.”
Hierdie toekomstige onderwyser se kop is sommer reg aangeskroef en is vol geesdrif om te help met ontwikkeling op alle vlakke van die gemeenskap.
Ons wens hom alle voorspoed met sy finale jaar van studies.
– Deur Johny Toerien