Bulletin Buzz podcasts
Crime News

“Sangoma se sterk muti is die rede vir moord” sê reeksmoordenaar

Written by Elana Theunissen

Vermeende reeksmoordenaar, Brian Mudyiwayana, se moordverhoor is tans onderweg in die Hoë Hof in Swellendam, en in die tweede week van hofverrigtinge is ‘n stroewe Mudyiwayana onder kruisverhoor geneem.

Mudyiwayana pleit onskuldig op alle aanklagtes teen hom – wat 6 klagtes van moord, roof met verswarende omstandighede en verkragting insluit – en erken slegs skuld op die klag dat hy onwettig in Suid-Afrika is.  Sy tydelike asielaansoekpermit het sowat 11 jaar gelede verstryk.

Swellendam Buurtwag

Volgens vryskutjoernalis wat die moordverhoor in diepte volg, Basil Davids (Die Son), het Lucian Matthys, ‘n beampte van Binnelandse Sake, getuig hoe Mudyiwayana ook met vervalste dokumente rondbeweeg het.  Kragtens Matthys het Mudyiwayana die land as Suleiman Chimbeti – ‘n Zimbabwiese musikant – binnegekom.

In Julie 2021 is Mudyiwayana deur die hof verwys na Valkenburg Psigiatriese Hospitaal in Kaapstad vir sielkundige evaluasie.  NVG Woordvoerder, Eric Ntabazalila, het hierna bevestig dat Mudyiwayana geskik verklaar was om verhoor te word.

Sterk muti en sangoma invloed moet skuld kry

Op 16 Februarie 2022 het Mudyiwayana onder ondervraging aan die hof sy rol in die moorde op Moleboheng Mafata (aanklag 3) en Gladys Ntondini (aanklag 4) weergegee.

Mudyiwayana beweer dat hy in beide moordaanvalle onder die invloed van sterk muti was wat hy van ‘n sangoma vanaf Kuruman in die Noord-Kaap ontvang het om hom te help om geld uit sy groenteverkoopbesigheid te maak, en hy dus nie skuldig kan wees aan die twee moorde nie.

Mudyiwayana se hofgetuienis skets bizarre mutirituele waarby hy onder die Sangoma se invloed muti moes drink wat gemaak het dat hy nie veel van gebeure kan onthou nie.  Selfs toe hy gearresteer was, het die sangoma hom beveel om van die muti te drink om te help om die polisiebeamptes te laat weggaan.

Vermeende reeksmoordenaar, Brian Mudyiwayana in die getuienisbank

Die sangoma het aan Mudyiwayana en Ntondini muti gegee om te drink en gewaarsku om nie die mutigeheim met enige iemand te deel nie.  Die eerste keer dat hul bloed gedrink het, was hul oë toe, maar hy kon die smaak van bloed in sy mond proe.  In Mosselbaai onder die sangoma se bevel het hul ook in bloed gebad.

In die Mufata-moord het hy getuig dat Ntondini vir Mufata met ‘n klip gegooi het waarna sy tydens ‘n worsteling dood neergeval het.  Die sangoma wat nie ver van die toneel af was nie, het aan hom ‘n sak met ‘n slang gegee – die slang moes glo bloed van die liggaam drink en is dan terug in die sak geplaas en aan die sangoma teruggegee.  Hierna is hy en Ntondini onder die invloed van muti na Mosselbaai geneem.

Die getuienis oor die Ntondini-moord was eweneens bizarre

Volgens Mudyiwayana is Ntondini na ‘n argument met ‘n houtstomp teen die kop geslaan deur ene Chihona Mushamvi. Ook in dié geval het die sangomaslang bloed uit die liggaam gesuig, waarna Mudyiwayana weer na Mosselbaai gereis het.

Dieselfde sangoma was later in ‘n liefdesverhouding met Mudyiwayana, maar is na bewering ook deur hom vermoor.

Mudyiwayana het tydens sy getuienis aan die hof sy misnoeë gedeel oor die onvermoë van sy regshulpadvokaat om aan die hof te verduidelik dat hy opgetree het onder die invloed van sterk muti en dus nie aanspreeklik kan wees vir die moorde nie.

Beweerde moordtogte het alreeds in April 2016 begin

Aldus die mediaplatvorm IOL is die 38-jarige Zimbabwiër in 2019 gearresteer nadat hy vir ongeveer twee jaar op vlug was.  Hy word daarvan beskuldig dat hy 6 mense in verskeie dorpe, insluitend Swellendam, vermoor het.  Volgens hofdokumente het sy beweerde moordtogte in April 2016 reeds begin.

SAPS het hul soektog vir Mudyiwayana begin nadat hy na bewering die 47-jarige Lungelwa Dangatye, ‘n onderwyser van Da Gamaskop, Mosselbaai, in 2017 vermoor en verkrag het.  Haar familie het haar binne haar huis met haar hande vasgebind en met wonde aan haar kop gevind.  Mudyiwayana is met DNA getuienis aan haar moord verbind.

Na sy arrestasie is Mudyiwayana deur die Dangatye moord verbind met ‘n reeks onopgeloste moorde in Wolseley, Worcester, Swellendam en de Doorns.

Slagoffers is beloftes van werk aangebied

Sy eerste beweerde slagoffer was Moleboheng Mafata, wat op 8 April 2016 vanaf Wolseley saam met hom gegaan het op belofte van ‘n werk by ‘n Kaapstadse dieretuin.

Dieselfde jaar, in November 2016, was die liggaam van Gladys Ntondini in die bosse op Kluitjieskraalplaas in Swellendam gevind.  Kragtens hofdokumente het hul verhouding begin nadat hy van sy vrou geskei het.

In dieselfde maand as Ntondini het hy klaarblyklik ‘n mede Zimbabwiër, Grace Nyasha Hondo, ontmoet en haar ‘n werk beloof by ‘n akkommodasie-instansie waar hy op daardie stadium gewerk het.  Hondo se oorskot is ‘n jaar later in Mei 2017 naby Bredasdorp gevind.

Naume Gwengwe, ook van Zimbabwe, het Worcester in September 2017 verlaat om by Mudyiwayana in Ashton aan te sluit vir werk.  Haar oorskot was in bosse naby die R60 in Swellendam gevind.

Michael Pekaan van De Doorns was Mudyiwayana se jongste slagoffer.  In November 2017 is sy liggaam in sy huis op die Vergenoegd plaas gevind.  Hy was vermoedelik met ‘n stomp voorwerp teen die kop geslaan en Mudyiwayana is na bewering opgemerk waar hy Pekaan se meubels op ‘n voertuig laai etlike dae na sy moord. 

Die saak en getuienis duur voort en uitslag word op 4 Maart verwag.

Lees Ook:

About the author

Elana Theunissen

Leave a Comment