Bulletin Buzz podcasts
Featured News

Swellendam kan ‘n spoggerige skou verwag 

Suzaan Smit
Written by Elana Theunissen

Skou president Suzaan spin behoorlik

Elke oggend wanneer sy haar dag begin is daar 190 dinge om te doen. Reëlings moet getref word, borge moet bevestig word en dan moet daar ook planne beraam word hoe  om Swellendam se besighede by die skou-optog te betrek. 

Swellendam Skou se president, Suzaan Smit, staan egter nie terug vir harde werk nie. Sy ryg die vergaderings in, een na die ander. Sy is vuur en vlam oor dit wat die gemeenskap van hierdie jaar se skou kan verwag. Haar passie en opgewondenheid is aansteeklik. 

Koffie anders val sy om. Swellendam Skou President Suzaan Smit vat skaars grond aangesien daar minder as vyf weke oorbly voor die groot dag aanbreek. Sy is trots Swellendam en uiters dankbaar vir die wyse waarop die gemeenskap vanjaar se skou ondersteun. 

Iewers tussen deur die 190 dagtake het sy die tyd gehad om met die Bulletinspan oor die skou se verwikkelinge te gesels. 

“Gee vir my asseblief die sterkste cappuccino wat julle het, ‘n dubbel,” was Suzaan se versoek aan die kelner by Grace + Merci. 

“Alles verloop so goed volgens plan.  Die gemeenskap gee met ope harte.  Die manier waarop my bestuur saamwerk en die reusetake verrig wat op hul skouers rus, het my wildste verwagtinge oortref.” 

“Ons het gedink dat besighede weens die pandemie ons nie noodwendig  so goed sou kon ondersteun nie, maar dit is geensins die geval nie. Mense sien raak wat ons doen en is trots op die dorp en sy skou.” 

Almal like van ‘n boerepompie

Dan is daar groot opgewondenheid rondom die feit dat Juan Boucher en Ricus Nel  ons kunstenaars vir die Saterdagaand  by die skou is.  Ricus gaan in lewende lywe sy beroemde lied, Boerepompie,  by vanjaar se skou opvoer. Hieroor moet Suzaan haar vise-president en eggenoot, Kobie Smit, se opgewondenheid probeer in toom hou, sodat hy kan fokus om vir die eerste keer in jare weer sy eie perde op Swellendam skou te vertoon. 

Suzaan het getuig sy hou hom (net-net) in toom, want Kobie deel haar groot entoesiasme en dryf om die skou ‘n sukses te maak en wil oral help.  

Sy is ook in haar noppies dat die Suid-Kaap Jersey Kampioenskappe uiteindelik in Swellendam gaan plaasvind. 

Daarmee saam vind die Ayrshire Nasionale Kampioen-skappe ook tydens die skou plaas wat beteken dat daar dus twee beesrasse hier verteenwoordig sal word. 

“Om te dink hoe ons in die verlede gesukkel het om ‘n enkele beesras by die skou te kry, nou is daar sommer twee. Dit dien as bewys dat die harde werk wat ons bestuur insit, vrugte begin afwerp.” 

Die spreekwoordelike kersie op die koek is die opwindende nuus dat die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerkompetisie ook by die Swellendam Skou plaasvind. 

Die Landbou-Oggend, met top landbousprekers , is ‘n hoogtepunt wat hierdie jaar plaasvind  en dan kan skougangers natuurlik na ‘n reeks uitstekende stalletjies uitsien. 

Suzaan het bevestig  dat omtrent  al die uitstalspasies reeds geneem is en dat daar na ‘n baie breë mark se aankoop-behoeftes omgesien word. 

Hierdie 190 jaar herdenking van Suid-Afrika se oudste aaneenlopende landbou-skou gaan beslis een vir die boeke wees en die Bulletinspan sien daarna uit om hierdie belangrike gebeurtenis op ons dorp se kalender saam met Suzaan en haar span te geniet. 

Hier op die Swellendam se stoep raak dinge pure plaas!

About the author

Elana Theunissen

Add Comment

Leave a Comment