Bulletin Buzz podcasts
Community News

Veels geluk Ouma Susanna Appel Ons Suurbraak ‘royalty’

Susanna Appel

Deur Elana Theunissen

Dit is min in ‘n mens se lewe dat jy ‘n nederige mens ontmoet met ‘n onwrikbare innerlike sterkte wat jou hart en siel aanraak. Een so ‘n mens is Ouma Susanna Appel van Suurbraak.

Ouma Susanna het sopas 96 jaar oud geword, en sy is voorwaar ‘n bloedjonge 96.  Klein en tengerig van postuur, maar netjies, fier, regop en fiets. 

Fyntjies uitgevat, spesiaal vir die onderhoud met die plaaslike media. Met blou handsakkie oor die arm kan Koningin Elizabeth van Engeland maar haar ou Buckingham Palace skoene agterna gooi.

Ouma Susanna is Suurbraak ‘royalty’.

Suurbraak in haar bloed

Sy is gebore in ‘n vorige eeu – 2 Januarie 1926.

Ouma Susanna vertel van haar vyf broers en drie susters waarvan meeste alreeds oorlede is en die harde lewe wat sy van kindsbeen af geken het.

Die gesin was baie arm en gevolglik moes sy na Sub A aan die werk spring om die familiepot aan die kook te hou.  Op ‘n vroeë ouderdom van nege het sy alreeds in die huise van die boere in die omgewing gaan werk en baie keer ‘n suikersak kos (patats, eiers en bone) gekry as betaling wanneer sy los strykwerkies vir boere verrig het.

Sy moes huis skoonmaak, brood bak, kos kook, strykgoed doen en ook koffie afmaal – en haar dag het alreeds 3uur in die oggend begin om koffie te skroei en brood te knie sodat dit daglig reg kan wees.

Ook eenuur-etenstyd moes sy vir die boerefamilie kosmaak.  Die klein meisietjie was so kort dat sy op ‘n kissie moes staan om die stoof skoon te maak vir ‘n loon van 12 sjielings en ‘n sakkie vol meel en vleis.

Later, tot sy so 21-jaar-oud was, het sy die boer se kinders grootgemaak; twee seuns en ‘n dogter.

Toe sy getroud is met haar eerste man – Johannes Michaels, ‘n tuinwerker en boorling van Suurbraak – het sy tuis gebly om haar eie twee dogters te versorg.

“My man was baie jaloers, het baie gedrink en het nie kerk toe gegaan nie,”  sê Ouma Susanna.  Op ‘n dag is haar man gesteek met ‘n mes en hy het in die hospitaal gesterf.

Ouma het maar los huiswerkies gedoen om geld te kry.

Donovan Julius
Ouma Susanna en haar kleinseun Donovan Julius (regs) en Duran Hendricks

‘n Tweede geleentheid

Met haar tweede man, Niklaas Appel, het dit beter gegaan.  Hy het vir die destydse Afdelingsraad gewerk en sy self het ‘n werkie by Janet Abrahams gekry.

“My tweede man het saam met my die Here gedien.  Die lewe saam met hom was ook nie altyd maklik nie, maar afgesien van al die moeilike dae in albei my huwelike het ek aangehou om op die Here te vertrou.”

Ouma Susanna ken nie net swaarkry nie, sy ken ook die hartseer van ‘n moeder wat ‘n kind en kleinkind ontydig aan die dood moes afstaan.

Een van haar twee seuns het in die Kaap gewerk en is daar vermoor.  Haar kleinkind het by haar kom bly om na haar te kyk.

“Hy was ‘n goeie seun en het uitstekende rugby gespeel,” vertel sy.

“Maar een naweek het iemand van die Kaap gekom en hom per ongeluk doodgeskiet. Dit het gevoel of my hele lewe in duie stort daardie aand en ek het self gewens om dood te gaan.

“Toe mense my kom sê my kleinkind is dood, het ek in skok kaalvoete na die bure gehardloop vir hulp.  Maar ek kan met trots sê die Here het my deur dit alles gedra.”

In haar eenvoudige, maar uiters netjiese en skoon huisie in Suurbraak waar sy na al die jare nog bly, deel sy met trots sertifikate van die geletterheidsklasse wat sy in 2008 gedoen het deur die Maryland Geletterdheidsprogram – ‘n uitreik na landelike gemeenskappe vanuit Hanover Park op die Kaapse Vlakte.

Hier het sy geleer lees en skryf – iets wat vir haar van onskatbare waarde was in haar lewe.  “Ek wou nog altyd leer lees en skryf en dit was lekker om deel te wees van die klas.”

Ouma Susanna bly tans saam met haar kleindogter, Christelle. Christelle self het haar ouers vroeg in haar lewe verloor en is uit die kinderhuis (waar sy opgeneem was as jong kleuter) in Ouma se sorg geplaas.

Hoe vier ‘n mens ‘n 96-jarige mylpaal?

Familielede het vir Ouma en kleindogter Christelle vir ‘n dagbesoek aan Witsand uitgeneem. 

“Ek was nog nooit by die see nie en het maar versigtig op ‘n afstand die water en branders dopgehou,” vertel sy.

Suurbraak het op unieke wyse Ouma Susanna geëer – met ‘n lewensgrootte en lewensgetroue muurskildery.

Regs, wanneer jy Suurbraak vanuit Swellendam binne ry, pryk die pragstuk op een van Suurbraak se ou geboutjies.

Susanna Appel

Met die Bulletin se besoek aan Ouma Susanna het Donovan Julius, Suurbraak kunstenaar (en kleinseun) Duran Hendricks  (Donovan se kunsgallery-bestuurder) haar geneem om vir die eerste keer die muurskildery te sien – ‘n regop, fietse Oumatjie, aangedaan en verewig in kleur op die baksteenmuur van Suurbraak.

Ouma Susanna, ons vier jou lewe.  Jy is ‘n juweel in ons midde.

Lees Ook:

Leave a Comment