Bulletin Buzz podcasts
Community News

Die heengaan van ‘n seun, pa, broer, lewensmaat, vriend en kollega

Alderman Matthys Koch

*Vriend en Kollega; 16-03-22

Matthys was ‘n eerbare mens. Hy het geweet wat hy aan mense het. Daar was by hom nie grys areas nie. Hy was nie ‘n draadsitter nie en jy het altyd geweet waar jy met hom gestaan het. Hy was op ‘n besonderse manier ‘n baie spesiale mens.

Vir 17 jaar het hy op die munisipale raad, die gemeenskap van Swellendam gedien. Eers as raadslid en toe as uitstekende speaker en raadsheer. Hy was ook op ‘n stadium onderburgemeester van Swellendam. Hy het ook Swellendam verteenwoordig op die Overberg Distriksraad, waar hy ook ‘n burgemeesterskomiteelid was.

Kinders en bejaardes het hom na aan die hart gelê. Hy het nooit geskroom om sy deel te doen om die lewe vir hul beter te maak nie. Matthys het ook nooit sy vriende in die steek gelaat nie. Hy was altyd reg om te help waar hy kon. In diegene wie se hart hy ingekruip het, is daar nou ‘n groot leemte. Ons harte is stukkend…

Stukkend vir ‘n ma wat haar enigste seun en staatmaker so kort na haar man, aan die dood moes afstaan. ‘n Moedige vrou, ‘n voorbeeld vir baie. Dis net so hartseer as ‘n ouer ‘n kind ter ruste moet lê.

Stukkend vir die tweeling, René en Lize en vir Eric. Jul pa was altyd so trots op julle. Trots op hoe julle jul lewe aanpak en uitrol. Hy het altyd met soveel liefde van jul prestasies vertel wanneer hy oor jul uitgevra was.

Stukkend vir Sanet en Atel. Matthys was op julle, sy susters, net so trots as wat jul pa op julle was.

Stukkend vir Winifred, ‘n engel uit die hemel in Matthys se lewe. Wens jul tyd saam kon baie jare meer gewees het. Jul het mekaar so gelukkig gemaak. Wees verseker dat elkeen wat vir Matthys lief was, jou opreg waardeer. Jy het nooit een dag opgehou om Matthys te ondersteun nie.

Daar is ‘n leemte in ons harte. As kollegas sal ons Matthys se insette en omgee vir die gemeenskap mis. Sy passie om Swellendam ‘n beter plek vir almal te maak, sal ons verder neem en uitleef. Sy standvastigheid en sin vir regverdigheid sal ons bybly.

Ons hoop vir vertroosting in tye van verlange en vrede in die gemoed van sy ma, kinders, susters en gesinne, lewensmaat, vriende en kollegas.

Rus sag liewe Matthys.

Ons salueer jou.

Matthys Koch

Swellendam groet ‘n grote in die gemeenskap

E Theunissen; 16-03-22

Op Vrydag, 11 Maart 2022, moes Swellendam noodgedwonge afskeid neem van ‘n leier, vriend en kollega.

Uitvoerende Burgemeester, Raadslid Francois du Rand, het sy simpatie en die van die Munisipale Bestuur uitgespreek in ‘n oop brief aan die Swellendam gemeenskap en die Koch familie.

“Dit is met groot hartseer dat Swellendam munisipaliteit verneem het van die heengaan van wyle Alderman Matthys Koch op Vrydag 11 Maart 2022.

Wyle Alderman Matthys Koch het sy gemeenskap vir 15 jaar as raadslid en later as Alderman gedien totdat swak gesondheid hom gedwing het om af te tree.

Swellendam se raad en personeel onthou Alderman Koch as iemand wat sy gemeenskap met toewyding stand-vastigheid gedien het.

Ek wil dus namens Swellendam munisipaliteit ons innige meegevoel aan sy familie en vriende stuur. Ons was geëerd om hom te ken en hoop dat jy vertroosting sal vind in die wete dat hy ‘n goeie lewe gelei het en baie gemis sal word.

Alderman Koch was ‘n goeie man wat omgegee het vir sy gemeenskap en ywerig gewerk het vir die opheffing daarvan. Ons sal hom as sodanig onthou en bid dat ons Hemelse Vader sy geliefdes vertroos in hierdie moeilike tye.”

“It is with great sadness that Swellendam Municipality learned of the passing of the late alderman Matthys Koch on Thursday 10 March 2022.

The late alderman Matthys Koch served his community as a councillor and later as an alderman, for 15 years, until ill health forced him to retire.

Swellendam council and staff remember alderman Koch as someone who served his community with dedication and a firm stand for what he believed in.

I would therefore on behalf of Swellendam municipality send our deepest condolences to his family and friends. We were honored to have known him and hope that you find solace in the knowledge that he has led a good life and will be greatly missed.

Alderman Koch was a good man who cared about his community and worked diligently for the upliftment thereof. We will remember him as such and pray that our Heavenly Father comforts his loved ones during these trying times.”

Leave a Comment