SWELLENDAM
Gedurende Junie 2025 het die Buurtwag verskeie insidente tydens patrollies aangemeld. Die volgende is van die belangrikste insidente en bekommernisse:
- Stoep- en grondslapers
Stoep- en grondslapers bly ‘n voortdurende probleem. Gereeld word mense verwyder vanaf die kerkgronde op die hoek van Voortrek- en Rheniusstraat. Klagtes oor dronk mans wat op die stoep van die AGS slaap, skel en baklei deur die nag, neem toe. Daar is ook gereelde probleme by die munisipale werkswinkel in Rheniusstraat waar mense snags lawaai en onmin saai.
- Middernag-ronddwaling
Steeds meer onbekende persone dwaal saans deur die dorp – baie is pas uit die tronk of nuut in Swellendam. Ons sien ook toenemend voertuie wat snags in afgeleë areas parkeer – ’n ernstige veiligheidsrisiko. Verdagte voertuie moet onmiddellik by SAPD of die Buurtwag aangemeld word vir ondersoek.
- Stopstrate word verontagsaam
Verskeie voertuie – insluitend vragmotors – ignoreer snags die stopstrate. Dit is ‘n ernstige oortreding en hou groot gevaar in vir ander padgebruikers.
- Swaarvoertuie in dorpsgebied
Talle swaarvoertuie gebruik snags Voortrekstraat om die weegbrug te vermy. Alhoewel munisipale verkeersbeamptes snags sigbaar is (wat ‘n verskil maak), is daar steeds oortreders. Ons spreek ons waardering uit teenoor provinsiale verkeersbeamptes – veral me. Susan Februarie – vir hul toegewyde bystand.
- Dronkbestuur
Dronk bestuurders is steeds ’n groot bron van kommer. Dit is roekeloos, gevaarlik en onaanvaarbaar.
- Diefstal vanaf stoepe
Stoepondiefstal duur voort – gasbottels en selfs kussings van banke (wat nie van die straat af sigbaar is nie) word gesteel. Hierdie misdade vind daagliks en snags plaas.
- Leë huise en geboue
Leë geboue word uitgebuit as slaapplekke en word dikwels beskadig of geplunder. Voorbeelde sluit in:
- Die duiweklub by die rugbyveld se ingang
- Die gebou agter U-Save (volledig geplunder)
- Die ou Tony’s Slaghuis
- Die ou Oakhurst Dierekliniek in Stasiestraat – erg beskadig en gestroop
- Bystand aan publiek
Buurtwaglede het verskeie kere hulp verleen wanneer verdagte persone in bosse of op persele sonder toestemming gevind is. Lede ondersteun ook winkels soos SPAR en Checkers met bedelaars wat klante hinder.
- Straatkinders
Straatkinders bedel daagliks by eetplekke en gebruik winkelwaentjies van SPAR en Checkers om kaskarre mee te bou. Wanneer hulle weggewys word, kom hulle gou terug. Mense wat weier om geld te gee, word soms met klippe gegooi of beledig.
- Inbrake
Twee huise langs mekaar in Buitekantstraat is op dieselfde aand geteiken. Mense moet toesien dat waardevolle items veilig weggebêre word. Die publiek word versoek om altyd ’n saak oop te maak by die polisie – al neem dit tyd, is dit belangrik vir rekordhouding.
- Kabeldiefstal
Kabels word steeds gesteel en verbrand om koper te onttrek vir verkoop.
- Algemeen
Koue en reënweer skrik nie misdadigers af nie. Die behoefte aan waaksaamheid bly dringend.
BELANGRIKE KONTAKNOMMERS
- SAPS Bystandfoon: 079 894 1439 / 10111
- SAPS Landlyn: 028 514 8104 / 028 514 8105
- Buurtwag Noodnommer: 069 101 7869
L.J. Theron

No Comment! Be the first one.