Bulletin Buzz podcasts

Spoonie

Ek was in 1989 bevoorreg om ‘n seminaar in Dallas, Texas, by te woon. Dr Callaghan was die spreker en hy het die volgende belangrike stelling gemaak: “People don’t change because of Guilt, but because of Hope.”

Pres Ramaphosa het dit duidelik gemaak, vir almal om te sien en te weet, dat hy baie graag korrupsie wil uitroei. Die laaste keer dat ons relatief goeie skoon administrasie in SA onder politici en in staatsdepartemente gesien het, was gedurende Pres Mbeki se termyn as president. Mbeki is met ‘n “sagte staatsgreep” onthef en Zuma het oorgeneem en van toe af het invloedryke mense by die ANC as politieke organisasie aangesluit om ryk te word. Daar is die gesegde: “Wanneer ‘n politieke leier ryker uittree as toe hy/sy toegetree het tot die loopbaan van voltydse politikus, was hy skelm.” Nêrens ter wêreld is dit meer duidelik as  in SA nie.

Maar wat maak die kiesers in die straat? Waarom word korrupsie nie al op straatvlak uitgeroei deur vir die regte mense te stem nie? Die antwoord is duidelik: Tot tyd en wyl die kieser glo, of mislei word om te glo, dat die korrupsie van politieke leiers ons as kiesers nie raak nie, is dit in orde. Die ironie is dat politieke leiers geen ander geld het om te steel behalwe ons geld wat ons vir hulle gee nie!

Die Tesourie, die Ontvanger van (al ons) Inkomste en die Regbank is die drie instansies waar daar nie korrupsie kan en mag wees nie. As hulle eers korrup is, is alles verlore. En dan begin die Zondo-kommissie met sy ondersoek en doen Adjunk Hoofregter Zondo ‘n uiters deeglike werk. Sy ondersoek is die keerpunt in ons land se korrupsie-geskiedenis. As die derde, en laaste deel van sy verslag aan Pres Ramaphosa oorhandig word, moet die poppe begin dans. Slegs daarná kan die Vervolgingsgesag met kriminele ondersoeke begin omdat al die inligting dan beskikbaar en publiek is.

Swellendam Buurtwag

Ons almal ly onder die korrupsie van die leiers in die ANC en in gekaapte Staatsdepartemente. Die grootste opponent van korrupsie is dieselfde korrupte leiers. Is dit dan snaaks dat daar so baie prominente politieke leiers is wat die aanstelling van Adjunk Regterpresident Zondo se aanstelling as Hooftregter van die land se Regbank kritiseer en Ramaphosa probeer oorreed om een van die ander kandidate aan te stel?  Zondo pas nie in by hul ambisies om aan te hou met steel nie.

Ek is gevolglik baie beswaard oor die taktiek van die DA-Leier, Steenhuizen, wat in die mosie van wantroue debat in reaksie op die toespraak van Ramaphosa in die parlement, eerder verkies het om op sarkastiese wyse die president aan te kla en te beledig en af te kraak. Was dit nie nou eerder die geleentheid om in hoofletters die president van die DA se ondersteuning te verseker om korrupsie uit te roei nie. Ja, verskil van punte in die toespraak, maar waarom die geleentheid misbruik om die ANC-leierskap in totaliteit te veroordeel? Wat wou hy daardeur bereik? Al positiewe punt wat hy kon behaal was om sy volgelinge van sy beterweterige wysheid te oortuig. Daarom was Steenhuizen se toespraak nie vir Ramaphosa of die parlement bedoel nie, maar vir die stemmers daarbuite.

Die DA, en argumentsonthalwe, al die sprekers van die opposisiepartye, moes nou eerder Ramaphosa geprys en aangemoedig het. Dit is in belang van ons land en ons toekoms dat Ramaphosa suksesvol is. Al reaksie waarop die DA nou kan staatmaak is woede omdat Ramaphosa beledig is. Ramaphosa sal nie verander omdat hy beskuldig word nie. Dit wek net woede. Doen eerder iets om die President hoop te gee en vir ons as burgers van die land. Waarom moet die DA, en ander sprekers, eerder poog om verdere verdeeldheid te kweek in plaas van eenheid. Vir hulle wil ek sê: Verenig en staan saam oor die beginsels waaroor julle saamstem!

LEES OOK:

Leave a Comment