Bulletin Buzz podcasts
News Opinion

Spoonie: Skynheiliges wees gewaarsku

Spoonie

Swellendam se gunsteling rubrieksrywer raak weer aan ‘n paar belangrike punte.

Verlede week het ons gesien hoe christene se slegte gesindheid van kritiek en veroordeling nie-christene afstootlik vind en hulle wegstoot.

Hierdie week kyk ons na daardie afstootlike houding van sommige christene, naamlik: skynheiligheid. Jy moet moet self besluit of die vinger na jou wys en dan maar die skoen aantrek… 

Wanneer iemand een ding sê, maar die teenoorgestelde ding doen, is hy skynheilig. Sy dade spreek so hard, ‘n mens kan nie hoor wat hy sê nie. Maar onthou versigtig: Dis baie makliker om iemand anders vals en skynheilig te noem as om te erken dat jy sélf skynheilig is. 

Ons christene sal moet erken dat ons dade nie altyd in lyn is met wat ons sê nie. Ek wil by myself begin. Dis hoekom ek nie ‘n vissie agterop my ryding plak nie. Ek skryf nie agterop my ryding: “God is my Vader en ek is Sy kind.”

Ek kan net so ongeduldig raak wanneer ek haastig is, maar wanneer ek met “plakkertjies” myself soos ‘n ongepoetste padvark gedra en nog sommer ‘n klomp woorde met vingertaal agterna praat, dan word my getuienis ‘n verleentheid. 

Ek is nie altyd die liefdevolle man vir my vrou nie, of die gawe sagte vader vir my kind nie, of die standvastige seun van my pa nie, of die sensitiewe baas vir my werksmense nie of selfs ‘n ware meelewende vriend vir my vriende nie.

Ek is ook maar ‘n mengsel van dinge wat ek moet doen en nie doen nie. Paulus het by geleentheid dit uitgekreun: “Daar is niks goeds in my nie.” Ons sukkel almal daarmee. 

Heiligmaking, die lewenslange proses van suiwering, om te word soos Jesus, hou nooit op nie. Intussen is ek nog nie wie ek graag wil wees nie, of wie God wil hê ek moet wees nie, maar ten minste moet ek anders wees en voortdurend positief verander, terwyl God se Gees in my werk. Dis waar van ons elkeen wat glo dat ons christene is. 

En om te besluit dat ek nooit weer foute gaan maak nie, beteken nie dat ek nie foute gaan maak nie. Daar is egter iets waaroor ek die beheer het: Ek moet kyk na wat ek sê. Ek weet presies watter taal ek nie moet gebruik nie en watter dinge ek nie moet sê nie. Wat ek egter kán besluit én dit beheer, is die volgende: ek moenie voorgee om te wees wie ek nié is nie.

Hoe meer nederigheid daar in my woorde is, teenoor spoggerigheid en hoogmoed oor hoe goed ek is, hoe kleiner word die gaping tussen wie ek is en wie ek sê ek is. En wees verseker, nie-christene meet gedurig hierdie gaping.

Erken jou tekortkominge en vat verantwoordelikheid vir jou foute, want dit verskil hemelsbreed van wanneer ek daardie foute sigbaar maak. Erkenning van foute bou brûe tussen jou en ander mense. 

So, ás ek dan lewe tussen wat ek sê, of wil sê, en wat ek doen, hoe gemaak? Die raad is om albei hierdie gesindhede te verander. 

Verander hoe jy lewe met die krag van die Here: verander hoe jy oor jou geloof praat, of oor jouself praat, of hoe jy lewe deur meer eerlikheid en nederigheid in te bring. Met ander woorde: Doen meer goed en praat nederiger, want niks oorbrug die gaping tussen woorde en dade vinniger as dit nie.  

Sterkte!

Lees ook:

Add Comment

Leave a Comment