Ons moet saamwerk vir ’n verenigde en voorspoedige munisipaliteit
Donovan Julius, Swellendam ANC Raadlsid; 27 Januarie 2025
In die groter prentjie van ons gemeenskap se groei en vooruitgang, is politieke affiliasies irrelevant. Wat werklik saak maak, is hoe ons as individue en leiers van diens kan wees tot die skepping van ’n verenigde, voorspoedige en harmonieuse munisipaliteit.
Ek wil dit duidelik maak: net omdat ek deel is van die ANC, maak dit my nie minder waardevol of toegewyd aan vooruitgang as iemand wat aan die VF+ of DA behoort nie.
Dit is tyd dat ons as gemeenskap en leierskap besef dat ons diversiteit nie ’n struikelblok is nie, maar ’n krag wat ons kan gebruik om brûe te bou, versoening te bevorder, en samewerking te prioritiseer.
Ek doen ’n beroep op elke persoon wat glo in samewerking, wat glo in hoop, en wat glo in die toekoms van ons munisipaliteit. Neem my hand. Loop saam met my. Ongeag van watter politieke party jy kom, ons gedeelde doel is dieselfde: ’n beter toekoms vir almal in ons gemeenskap.
As ons saamstaan, oor grense en politieke verdeeldheid heen, kan ons onmoontlike hoogtes bereik. Deur empatie, visie en samewerking kan ons vorentoe beweeg na ’n beloofde land waar almal ’n gevoel van tuiste, veiligheid en vooruitgang ervaar.

No Comment! Be the first one.