Swellendam steeds sonder Burgemeester, en tans ook sonder Speaker
Langeberg Bulletin; 3 Februarie 2025
Swellendam – Die spreekwoordelike kat is in die kuikenhok losgelaat by Maandag, 3 Februarie 2025 se Spesiale Raadsvergadering om ‘n nuwe burgemeester te verkies nadat voormalige Uitvoerende Burgemeester, Francois du Rand, verlede week deur ‘n wantroue-mosie die burgemeesterstoel moes ontrium.
Per agenda was formele sake van die dag die aanhoor van nominasies vir die burgemeestersposisie, en ‘n stemproses om ‘n nuwe burgemeester te verkies.
Die ganse Swellendam was in afwagting vir die uitspeel van die burgemeesterstemproses in die Raadsaal.
NASIONALE SWAAR GEWIGTE WEEG IN MET VOORWAARDES VOOR DIE SPESIALE RAADSVERGADERING, EN OPDRAGTE VAN BO
Sondagaand, alvorens inwoners die stof van die naweek behoorlik afgestof het, was daar ‘n persverklaring en stemboodskap van Wouter Wessels, VF Plus: LP namens die Federale Dagbestuur, waarin hy bevestig dat die VF+ Raadslid volgens die koalisie-ooreenkoms, vir ‘n DA-kandidaat sal stem, en dat hul onder geen omstandighede sal toelaat dat die ANC aan bewind in Swellendam kom nie.
Wessels het egter bygevoeg dat die VF+ hulself daartoe verbind om enige vorm van korrupsie en wanbestuur te stuit en verantwoordbaarheid en deursigtigheid te verseker, en dring dus daarop aan dat alle bewerings van ongerymdhede teen du Rand deeglik ondersoek word. ‘n Mosie wat sodanige ondersoek van stapel stuur sal binnekort in die raad ter tafel gelê word.
Ook Tertius Simmers, DA Wes-Kaap Leier, het van hom laat hoor.
Hy het verklaar dat die DA die VF+ Federale Raad se besluit verwelkom om seker te maak dat die Party se Raadslid in Swellendam (J van Schalkwyk) die DA se kandidaat, Alderman F du Rand sal steun in die stemproses (en hiermee bevestiging gegee dat die voormalige burgemeester wel die DA se kandidaat sal wees vir burgemeesterspos).
Simmers het egter ook ‘n voorwaarde gestel – ‘n onafhanklike en onpartydige ondersoek moet geloods word teen beweringe wat van Schalkwyk teen du Rand gemaak het, en bevindinge voortspruitend uit die ondersoek teen du Rand ingesluit word.
VRYSTELLING VAN DIE VEELBESPROKE VERMAAKVERSLAG
Die verwagte drama in die Swellendam Raadsaal Maandagoggend het nie teleurgestel nie.
Alvorens die nominasie- en stemproses kon begin, het ANC Hoofsweep, Amanda Swart, ‘n dringende mosie ter tafel gelê om die veel besproke Vermaak Verslag wat handel oor beweerde tenderongeruimdhede, onmiddelik gepubliseer word. Die verslag is opgestel deur Advokaat Etienne Vermaak. Hy is aangestel as onafhanklike en onpartydigde ondersoekbeampte in die saak.
Swart het aangevoer dat dit van kardinale belang en ter wille van openbare betrokkenheid is om ‘n ongeredigeerde weergawe van die verslag vry te stel sodat inwoners die waarheid kan sien oor die R40m tender bedrog, die advokaat se volle bevindings en ook die aanspreeklikheid van die amptenary hierin vervat.
Aldus Swart is dele van die verslag alreeds aan die media en inwoners deurgegee, en in belang van deursigtigheid is dit belangrik dat inwoners bewus gemaak word van die ware inhoud van die verslag.
Al het die DA (du Rand) bevestig dat hul die publikasie van die Vermaak verslag ondersteun, het hul egter gevra dat die mosie na ‘n latere spesiale vergadering verskuif om die implikasie van publieke bekendmaking te bespreek. Du Rand het gemaan dat die Raad eers ‘n regsmening moet aanvra alvorens die verslag gesirkuleer word aan die wyer publiek.
Die verslag bevat verwysings na maatskappye en persone, en die Raad kan huslefl skuldig maak aan oortreding van die POPI wetgewing op die bekendmaking van persoonlike inligting. Dit is belangrik om die integriteit van die Raad te beskerm in die verband.
Nieteenstaande die DA besware teen die openbare bekendmaking van die verslag, is daar tot stemming oorgegaan op die ANC mosie. 6 Raadslede (ANC en VF+) het vir die mosie gestem, en 5 (DA) daarteen.
Die Vermaak Verslag sou na afloop van die vergadering op die SweMun webtuiste geplaas word vir kennisname.
NOMINASIE EN VERKIESING VAN SWELLENDAM UITVOERENDE BURGEMEESTER
Twee geldige nominasies is ter tafel gelê:
1) Francois du Rand (DA)
2) Julian Matthyssen (ANC)
Na geheime stemming is 5 stemme uitgebring vir die DA kandidaat, en 5 vir die ANC. Die VF+ Raadslid het buite stemming gebly.
‘n Volgende Spesiale Raadsvergadering sal gehou word binne 7 dae om die stemproses te herhaal. Indien daar geen verandering in die stemuitslag is nie en ‘n dooiepunt bereik word, sal die nuwe burgemeester aangewys word deur die trekking van ‘n lootjie.
DIE KAT IN DIE KUIKENHOK
Na afloop van die stemmingsproses het van Schalkwyk aangekondig dat hy met onmiddelike effek bedank as Speaker, as Raadslid en ook van die VF+ Party.
Sy afskeidswoorde aan die Raad en inwoners van Swellendam was dat sy beginsels en waardes nie oop is vir onderhandeling nie, en dat sy waardigheid veel meer werd is as politieke skuiwe. Sy integriteit is nie te koop nie en om hierdie rede het hy geweier om sy stem te gee vir Francois du Rand as Burgemeester. Hy weier om tot ‘n skaakpion verminder te word binne ‘n roekelose, disfunksionele koalisie. Hy maak sy besluit om te bedank met ‘n skoon gewete, wetend dat sy lojaliteit by die mense van Swellendam lê, nie by politieke agendas nie.
Na afloop van die vergadering het du Rand onomwonde op rekord aan die Bulletin gesê: “Juan van Schalkwyk het bedank omdat hy weet dat daar ‘n ondersoek teen hom geloods is. Die waarheid gaan uitkom.”
Die volgende Spesiale Raadsvergadering is geskeduleer vir Maandag, 10 Februarie, vir ‘n tweede kans om ‘n geskikte burgemeester vir Swellendam aan te wys.
Stemme vir die Uitvoerende Burgemeestersposisie het op ‘n dooiepunt uitgeloop. ‘n Volgende steming sal plaasvind binne 7 dae.

No Comment! Be the first one.