VLIEG HOOG MATRIEKS VAN 2024
Rozali Blignaut
Op 14 Januarie het die matriekklas van 2024 hul finale uitslae ontvang. Hoërskool Swellendam spog weereens met ‘n 100% slaagsyfer en 8 A-kanditate. Maia Nel behaal ‘n indrukwekkende gemiddeld van 85,6% en is as dux-leerling aangewys.
Haar advies aan haar mede-Swellies is: “Aanvaar dat jy gestres en oorweldig gaan voel; aanvaar dat al probeer jy jou heel bes jy nie altyd jou gewenste resultate sal behaal nie en aanvaar dat jy nie elke keer jou ouers en onderwysers in ekstase sal laat op en af spring nie. Met aanvaarding, verdwyn die ernstige druk wat leerders op hulself plaas om te presteer.”
Baie geluk aan elke matrikulant wat die Swellie-naam deur hul hoërskoolloopbaan hoog gehou het en sterkte vir die hoogtes wat jy nog gaan bereik! Altiora Semper, altyd hoër
WELKOM GRAAD 8’S
Chad Louw
Hoërskool Swellendam het sy nuwe welpies, oftewel matrieks van 2029, op 13 Januarie by die skool verwelkom. Die matriekraad het die skool se tradisie van oriëntering gehandhaaf en die leerders in die diep kant ingegooi sodat hulle vinnig hul voete kon vind.
Liewe nuwe welpies. Terwyl jy in hierdie opwindende hoofstuk van jou lewe instap, verwelkom ons jou graag by Hoërskool Swellendam— ‘n plek waar groei, geleenthede en vriendskappe wag. Moenie huiwer om nuwe dinge te probeer en betrokke te raak by aktiwiteite wat jou inspireer nie – dit kan jou na nuwe passies, vaardighede en selfs vriendskappe lei.
Daar is nog baie om te doen voor matriek, maar weet dat hierdie hoërskoolloopbaan in ‘n oogwink verby kan wees. So geniet elke oomblik!
STUDENTERAAD KAMP
Mariana Swanepoel
Die leerlingraad van Hoërskool Swellendam het die naweek van 17-19 Januarie hul leierskapkamp in Hartenbos bygewoon.
Daar was 4 sessies aangebied deur mev Rozaan Blignaut en mev Alana Viljoen. Hulle het die skool se jaartema verduidelik en die leerders opgelei om die beste moontlike leiers vir die skool te wees!
Verder was daar baie ander prettige aktiwiteite vir hierdie fenomenale groep beplan om mekaar beter te leer ken: Daar is op die strand gespeel, tafeltennis geniet, kampvuurkonsert gehou, sokker gespeel en baie gelag.
Dit was ‘n suksesvolle kamp en die leerders stem almal saam dat hulle nuwe idees en energie het om vanjaar ‘n verskil in ons skool te maak!
Netwerk 24 en Die Burger se 66ste Jeugleierskonferensie
Mila Engelbrecht
Gedurende die Desembervakansie was Mila Engelbrecht, hoofdogter van Hoërskool Swellendam, een van 59 leiers van regoor Suid-Afrika wat gekies is om Netwerk 24 en Die Burger se 66ste Jeugleierskap- konferensie in Stellenbosch by te woon.
Sy het die 8ste by Minerva Ladies’ Hostel ingetrek en al die ander jong leiers ontmoet. ’n Spesiale ‘leer-ken-mekaar’-geleentheid is op die eerste aand vir hulle gereël. Elke dag het ‘n ander groep die geleentheid gehad om toesprake te lewer oor die sub-onderwerpe van ‘Resilient Leadership in a Technological World’.
Daar was daagliks praatjies van kenners op die gebied en Mila het die nodige motivering en inspirasie gekry om die nuwe jaar aan te pak. Hulle het die geleentheid gehad om ‘n Rooi Bus-reis te hou, asook ‘n inligtingsessie wat deur die Universiteit Stellenbosch aangebied is.
Mila beskryf haar ervaring as: “’n Ongelooflike voorreg en waardevolle belewenis. As iemand ooit die geleentheid kry om so iets by te woon, moet hulle nie eers twee keer dink nie, want jy ontmoet ongelooflike mense en dit berei jou so goed voor vir die besige jaar wat voorlê!”
ILNA BEHAAL BOLAND
Sarah Flores
Ilna Swart het die Boland A-span in die vakansie gehaal danksy haar puik prestasie in die 800 meter. Hulle span sal op 1 Februarie meeding om Wes-Kaap status te wen.
Op die 18de het Ilna ook aan ‘n byeenkoms by Hoërskool Gimnasium deelgeneem en ‘n 4de plek behaal. Baie geluk Ilna! Ons wens jou alle sterkte toe!

No Comment! Be the first one.