Swellendam – Op 1 Julie het die hoof waterlyn na Railton gebars. Herstelwerk is teen 15h00 die dag voltooi, waarna die netwerk gespoel is. Met die herstelwerk het een van die reservoirs in Railton heeltemal leeg geloop terwyl die tweede een nog 70% vol was, maar dié reservoir kon nie die netwerk voldoende voer nie. Groot gedeeltes van Railton, veral in die hoogliggende areas, was sonder water.
Watertrokke is voorsien binne die ge-affekteerde areas terwyl daar onverpoos na die oorsaak van die probleem gesoek is. Daar is gevind dat daar ‘n konneksie probleem tussen die twee reservoirs bestaan en daarom is die reservoirs omseil en die toevoer netwerk direk aan Railton se retikulasie netwerk gekoppel.
Met die ondersoek na die reservoirs se konneksie en voerprobleme is gevind dat daar vele klippe en betonstukke binne die reservoirs ingegooi is wat die vloei belemmer. Die obstruksies is verwyder, maar die probleem van vandalisme duur voort.
In 2021 is die omheining afgesteel, sedertdien is die kameras en alarms gevandaliseer en die elektriese heining vernietig en gesteel. Die telemetrie is beskadig en die mangat- en beton deksels word voortdurend gevandaliseer met klippe en betonstrukture wat in die damme ingegooi word. Dit het direk bygedra tot die verlengde herstelperiode van die watertoevoer in Railton.
Die beton deksels is baie swaar en kan slegs met groot moeite verwyder word. Die gemeenskap se ondersteuning word benodig om enige ongemagtigde beweging by die reservoirs en munisipale infrastruktuur in die algemeen aan te meld. Die verlengde water onderbreking is ‘n duidelike voorbeeld van hoe vandalisme elke inwoner se lewensgehalte beïnvloed.
Die Munisipaliteit is besig om weer na die beveiliging van die reservoirs te kyk, maar benodig ondersteuning om vandalisme te bekamp.
‘n Woord van dank word gerig aan die munisipale werkers wat onverpoos in die koue gespook het om die watertoevoer aan Railton te herstel.
Ongemagtigde Stormwater Opkoppelings
Waar vasgestel word dat ‘n eienaar toegelaat het dat stormwater/dakwater in die rioolstelsel gestort word in die rioolstelsel, sal die volgende boetes opgelê word:
Eerste oortreding – R6 160.00
Tweede oortreding – R9 520.00
Neem kennis die eienaar is verantwoordelik vir enige veranderinge wat die huurder aangebring het op sy perseel. Erfeienaars word aangeraai om hulle eindomme te inspekteer en om ongemagtigde opkoppelings te verwyder. Die Munisipaliteit behou die reg om eiendom te inspekteer.

No Comment! Be the first one.